FiND iT kuier tydens #lockdown by Alrika Pretorius in Buckland Beach, Auckland, New-Zeeland.
FiND iT het by haar verneem oor hoe sy die wêreldwye #lockdown ervaar.
Sy wys ook vir ons hoe hulle daar in NZ braai.
Alrika en haar gesin het onlangs na New-Zeeland getrek. Hulle was maar ‘n paar weke daar voordat die Covid-19-pandemie uitgebreek het.
Waar woon julle?
Bucklands Beach, Auckland.
Wanneer het die Covid-pandemie ‘n effek op julle lewens begin hê?
So ses weke gelede. Ons het begin met fase 3 lockdown en toe so vier weke gelede met fase 4. Ons mag nog fietsry, draf en stap. Almal hou maar net hulle afstand.
Hoe hanteer julle land dit?
Hulle is baie streng en baie effektief, die meerderheid mense doen wat van hulle verwag word.
Gaan jy uit met ‘n masker en hoe werk dit as jy werk toe gaan of wil inkopies doen?
Daar is baie mense wat maskers dra, maar ekself doen nie. Winkels vra dat net een van ‘n gesin winkels toe gaan.
Hoe lyk julle winkels?
By die winkels is daar ontsmettingsmiddel en gewoonlik handskoene wat hulle uitdeel. By die deure beheer ‘n sekuriteitspersoon hoeveel mense ingaan. Slegs ‘n sekere aantal mense word in winkels toegelaat. Hulle werk dit volgens die grootte van die winkel uit. Winkels gaan aan soos normaalwegen kan nog steeds bier en wyn verkoop. Net die drankwinkels is toe, maar van hulle doen nou aanlyn bestellings en lewer af.
Werk julle nou van die huis af?
Slegs my man werk en word ten volle betaal. Hulle druk etikette vir die wyn- en kosbedryf en word as ‘n essensiële diens gesien.
Hoe doen julle land dinge anders as bv. Suid-Afrika?
Hier is die mense meer wetsgehoorsaam, ek dink dit maak die situasie baie anders as in Suid-Afrika.
Voel jy meer homesick hierdie tyd?
Ons het onlangs hierheen gekom – ‘n paar weke voor die Covid-storie – en is nog in die honeymoon fase. Ons kommunikeer gereeld per Whatsapp met my dogter, ma en vriende in Suid-Afrika.
Hoe ervaar jou huisgenote dit?
Die kinders is heel okei daarmee, gaan ry elke nou en dan bietjie fiets of stap kafee toe, is verder maar op hulle rekenaars en fone. My man werk gewone ure en naweke probeer ons maar net rustig wees, ry ‘n draai of gaan stap. Ek vat dit maar dag vir dag en probeer nie te ver vooruit te beplan nie.
Waar lees jy jou nuus elke dag en hoe bly julle op hoogte?
Ek sien maar op Facebook wat aangaan en verder lig my man my in. Op die TV-kanale is daar heeltyd aankondigings om te sê wat ons mag en nie mag doen nie en om raad te gee, soos was gereeld jou hande en net een persoon op ‘n slag mag winkel toe gaan.
Hoe dink jy gaan die lockdown die ekonomie van julle land beïnvloed?
Ek dink al die lande se ekonomieë gaan maar seerkry. Klein winkels gaan vir seker harder val as ander. Groot maatskappye stel ook maatreëls in, soos om mense wat ‘oorbodig’ is, op verlof te sit.
Wat staan vir jou uit van hierdie tyd?
Definitief hoe mense saamstaan en uitreik om ander te help. Dink die gevoel van dis nie net ons nie, dis almal en ons gaan almal deur dieselfde pyne.




