Beweerde diefstal van kospakkies vereis streng straf

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noord-Kaap verwelkom ‘n ondersoek deur die Valke na bedrog en diefstal van voedselpakkies in die provinsie. Ons versoek dat alle verwante sake geprioritiseer moet word, sodat dit as ‘n effektiewe afskrikmiddel vir die verdere misbruik van maatskaplike verligting sal dien.

Klag ontvang

Die DA het ‘n verdere klag ontvang rakende die beweerde misbruik van kospakkies deur ‘n ANC-raadslid in die !Kheis-munisipaliteit. Die raadslid, wat glo nie deur enige owerhede of amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling vergesel is nie, is vandeesweek gefotografeer toe hy besig was om rond te ry in Groblershoop met kospakkies in sy kattebak.

Dit was ondanks die feit dat die verspreidingsmagte van kospakkies van raadslede weggeneem is en die misbruik van kospakkies wyd deur regeringsleiers veroordeel is.

Beweerde misbruik

Terwyl die DA bykomende maatreëls verwelkom wat ingestel is om bedrog en diefstal van kospakkies te bekamp, insluitend die instelling van ‘n blitslyn waarvolgens mense oortredings kan aanmeld, word dit al hoe duideliker dat geen hoeveelheid waarskuwings gewetenlose mense sal verhinder om kospakkies te misbruik nie.

Aan die einde van die dag is die enigste lewensvatbare afskrikmiddel dat die wet in werking moet tree. Gegewe die groeiende behoefte aan maatskaplike verligting regoor die provinsie en die land, moet dit dus bespoedig word.

Moet geskors word

Buiten dat strafregtelike prosesse bespoedig moet word, vra die DA verder dat die raadslede of amptenare wat na bewering by kospakkies betrokke is, onmiddellik geskors moet word.

Dit is ‘n bedreiging vir die voortbestaan van mense wat sonder werk, salarisse, en voedsel op hul tafels gelaat is. Onder die oorlogagtige omstandighede waarin ons tans leef, moet diefstal van kospakkies as hoogverraad beskou word en as sulks hanteer word.

Die DA sal die bewerings rakende die !Kheis-raadslid aan die owerhede rapporteer, en ons sal voortgaan om  op die uitkyk te wees vir enige verdagte aktiwiteite wat mense van noodsaklike kospakkies beroof.

Harold McGluwa, LPW, DA Noord-Kaapse provinsiale voorsitter en hoofsweep van die provinsiale koukus