Covid-19 in die Noord-Kaap

Die Noord-Kaap se skandering- en toetsingsveldtog, as deel van die implementering van voorkomingsmaatreëls teen die verspreiding van Covid-19, vorder goed, sê Mase Manopole, LUR van die Noord-Kaapse departement van gesondheid.

Die Noord-Kaap het op 24 April al meer as 388 076 skanderingstoetse vir die koronavirus gedoen. Dié toetse vind plaas by padblokkades en toetsstasies by gesondheidsfasiliteite.

Die toetsingskriteria, soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie uiteengesit, sluit individue in met respiratoriese probleme en simptome soos ‘n kroniese hoes, seerkeel, kortasem of koors. Die kriteria sluit ook persone in wat moontlik in kontak was met ‘n Covid-19-lyer.

Die provinsie het al meer as 895 monsters aan die Nasional Health Laboratory Service gestuur om getoets te word, waarvan 16 pasiënte se toetsuitslae positief teruggekom het.

Manopole sê geen van die 16 pasiënte is in die hospitaal opgeneem nie en daar is geen sterftes in die provinsie aangemeld nie.

Ses van hierdie pasiënte is al van die virus genees en dié getal sal na verwagting binnekort styg. Die einde van die voorgeskrewe tydperk van isolasie is vir die pasiënte in sig.

Noord-Kaapse koronagevalle volgens distrik

Die John Taolo Gaetsewe-distrik het tans geen positiewe koronagevalle nie.

Die Namakwa-distrik het drie gevalle aangemeld.

Dis Pixley ka Seme-distrik en die ZF Mgcawu-distrik het elk een positiewe geval.

Elf van die provinsie se koronagevalle is in die Frances Baard-distrik aangemeld.

Die provinsiale gesondheidsdepartement sê hulle het onlangs 100 000 addisionele toetsstelle ontvang en sal voortgaan met die toetsingsprosesse van diegene wat aan die WGO se kriteria van simptome en tekens voldoen.

Die Noord-Kaap sal binnekort ‘n totaal van 1 360 hospitaalbeddens beskikbaar hê om Covid-19-pasiënte te akkomodeer.

Manopole doen ‘n beroep op alle inwoners om die virusverspreiding te voorkom deur die dra van lapmaskers soos deur die regering aanbeveel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *