FiND iT kuier tydens #lockdown in Saskatchewan, Kanada

Deel hierdie storie / Share this story


KANADA. – Christel Kleingeld en haar man woon in La Ronge, Saskatchewan, Kanada.

FiND iT het by haar gaan inloer om te hoor oor hoe hulle die wêreldwye #lockdown daar ervaar.

Van wanneer af het die Covid-uitbraak ‘n effek op julle lewens gehad?

“Ons was vir ‘n week vakansie (om verligting te kry van die lang en bitter koue winter) in Mexico en toe ons terugkom op 18 Maart moes ons in self-isolasie gaan vir 14 dae.”

Hoe hanteer julle land dit?

“Kanada se provinsies het almal gedurende Maart noodtoestande afgekondig wat beteken het dat skole en kinderversorgingsentrums gesluit het, mense sosiaal moes isoleer, mense werk van die huis af en net noodsaaklike besighede kan oopbly (bv. myne, bou, boerdery). In Kanada is restaurante en drankwinkels oop. Restaurante mag net wegneemetes verskaf.”

Hoe werk dit as julle moet uitgaan – dra julle bv. maskers?

“Ons gaan nie met maskers uit nie. Daar is lae insidensie in ons provinsie en in ons dorp nog geen mense positief met Covid-19 getoets nie. Ons respekteer twee meter afstand in winkels. My man is ‘n dokter en werk deeltyds by ‘n ‘reserve’ waar hulle net noodgevalle sien en die res telefoniese konsultasies.”

Hoe lyk dit in julle winkels?

“Ons winkels laat net ‘n sekere hoeveelheid mense toe op ‘n slag en het saniteerder by ingange en aanduidings op die vloere as riglyn vir die twee meter afstand.”

Hoe dink jy doen julle land dit anders as bv. SA?

“Ons hardewarewinkels is nog oop, so ons kan bv. huisverbeteringe doen. Ongelukkig is hier nog diep sneeu, so ons kan nog nie in die tuin werk nie. Ons drankwinkels en ‘weed-shops’ is oop, sigarette is ook beskikbaar en wegneemetes wat help dat restaurante nie so swaar kry nie.“

Is jy meer home-sick in hierdie tyd?

“Ek is verskriklik home-sick. Baie van ons familie is in Suid-Afrika. Ek is ook baie bekommerd oor SA, veral oor die ekonomie.”

Hoe bly julle op hoogte met die nuus?

“Ons kry nuus op die TV en op die internet. Ek het die News24 app waar ek my SA nuus kry en verkies BBC vir internasionale nuus. Ons het uit die aard van die saak baie Amerikaanse nuuskanale wat soms moeilik is om te ignoreer, maar die politiek daar maak mens naar.”

Hoe dink jy gaan die pandemie julle land beïnvloed?

“Kanada is geografies ‘n baie groot land (tweede grootste in die wêreld) met ‘n bevolking van 37,5 miljoen. Dis ‘n ryk land en mense wat hulle inkomste verloor het, ontvang vergoeding (ongeveer CAD 2,000 per maand). Maar die land se ekonomie gaan beslis nadelig beïnvloed word deur Covid-29, veral die olie- industrie. Die ekonomie hier is baie gekoppel aan die Amerikaanse ekonomie. So, as dit sleg gaan daar beïnvloed dit ons. As semi-afgetredenes is ons maar baie bekommerd oor ons beleggings en veral dié in Suid-Afrika. Jongmense het tyd om op te maak vir die verliese, maar vir ouer mense is dit ‘n groter uitdaging. En vir sommiges kan dit ‘n krisis meebring.”

Wat van dié tyd staan vir jou uit?

“Mens kan nie anders as om te voel dat Covid-19 amper ‘n ‘gevolg’ is van ons mishandeling van die aarde nie. Ek hoop dat ons in hierdie tyd sal besin oor dinge soos aardverwarming, besoedeling en hoe ons met minder besittings kan klaarkom, en dat mense die ekonomiese herstel sal gebruik om omgewingsvriendelike energiebronne te ontwikkel. Maar ek dink nie die wêreld gaan sommer gou weer dieselfde wees as voorheen nie.”

Video
Christel se straat van haar voorstoep af – dit is lente in Kanada en ja, die video is “in kleur” geneem!