SUID-AFRIKA – Hier is ’n insig oor die verwagte opvangprogram vir skole wanneer die inperking gelig word.
Hier is die volledige persverklaring:
COVID-19, SKOLE EN DIE VERWAGTE OPVANGPROGRAM
Daar bestaan talle onsekerhede oor die impak van die huidige inperking op die onderwys en skole. Na aanleiding van talle spekulatiewe mediaberigte in die hoofstroom- en sosiale media is daar gewis ‘n behoefte om meer konkrete inligting te kommunikeer. Die SAOU vorm deel van die binnekring van beplanning en voorsien daarom graag antwoorde op van die mees relevante vrae, met dien verstande dat dit vereken moet word dat – die grendelstaat op 30 April eindig; die inligting wat gedeel word, deel vorm van beplanning; daar nog nie antwoorde op alle probleemsituasies bestaan; en daar nog geen finale besluite geneem is nie.
1. Sal die skoolkalender hersien moet word? Indien die grendelstaat op 30 April beeïndig word, sal die skole heropen op 4 Mei 2020 vir onderwyspersoneel en op 5 of 6 Mei 2020 vir leerders. Indien dit die geval is, sal ongeveer 24-26 skooldae vir die grade wat eerste terugkeer verlore wees. Dit sal nie moontlik wees om die dae in te haal as daar nie aanpassings op die skoolkalender gemaak word nie. Die voorlopige beplanning is om die Junie-vakansie met twee weke te verkort en om ook die September-vakansie te verkort. Die SAOU is egter hoegenaamd nie ten gunste daarvan om bloot deur te druk sonder enige noemenswaardige breuke nie. Dit sal vir veral die jonger leerders uitputtend wees.
2. Sal die handhawing van sosiale afstande van 1.5m tussen mense (“social distancing”) verpligtend wees? Die Departement van Gesondheid en die President se advieskomitee insake die Korona-virus verwag dat die infeksiekoers na afloop van die grendelstaat sal toeneem. Die Departement van Gesondheid is adamant dat die handhawing van ‘n sosiale afstand van 1.5m uiters belangrik is. Na aanleiding van besprekings binne die SAOU word hierdie aspek as uiters kompleks binne skoolverband beskou. Skole sal die nakoming van die voorskrif baie goed moet oorweeg. Dit sal veral moeilik wees in die laer grade en tydens openbare vervoer. Dit sal ongetwyfeld ‘n impak hê op die afbakening van die speelterrein, gesamentlike byeenkomste, klaswisseling, kommunikasie, personeelkamers, ens.
3. Sal skole gesaniteer moet word? Die DBO het aangedui dat elke skool ‘n sanitasiepakket sal ontvang waarmee die skool gereeld gesaniteer moet word. Die aanvanklike beplanning was dat eksterne kontrakteurs dit sou doen, maar die logistiek om dit voor die skoolopening op 4 Mei 2020 vir meer as 24,000 skole te doen, is nie moontlik nie. Dit word ook voorsien dat meer as 24, 000 sanitasie pakkette nie maklik betyds voor 4 Mei 2020 by skole afgelewer sal kan word nie. Dus, skoolbesture sal in oorleg met skoolbeheerliggame gepaste reëlings moet tref. Dit sal egter nie ‘n eenmalige aksie kan wees nie en die deurlopende sanitering van areas van hoë verkeer en aanraking nl. deurkosyne, trapreëlings,kleedkamers, skoollessenaars, ens gegee moet word ten einde infeksies te voorkom.
4. Sal maskers en ander persoonlike beskermingstoerusting deur die onderwysowerhede voorsien word? Die haalbaarheid om vir meer as 12 miloen leerders en vir meer as 400,000 onderwyspersoneel op weeklikse basis dit te voorsien is logisties nie moontlik nie. Hieroor bestaan werklik nog groot onsekerheid. Die mees haalbare opsies is dat die onderwysowerhede vir elke skool ‘n geoormerkte begroting voorsien, of dat die skool self dit sal moet finansier. Die SAOU is egter adamant dat die persoonlike veiligheid en gesondheid van onderwysers en leerders ononderhandelbaar is.
5. Hoe sal verseker word dat geïnfekteerde leerders en onderwyspersoneel nie tot skoolterreine toegelaat word nie? Die tydige identifisering van geïnfekteerde persone is van kardinale belang om infeksies te bekamp. Dit is veral die persone wat asimptomaties (toon geen of min simptome) is, wat problematies is. Dit word des te meer belangrik as kennis geneem word dat die piek van die infeksies gedurende Augustus-September verwag word. Dat hierdie aspek van kardinale belang is, is gewis, maar op welke wyse en deur wie die toetsing gedoen sal word, is daar nog onsekerheid.
6. Sal dieselfde reëlings ook vir OLSOB-skole geld? OLSOB-skole is veel meer kompleks as hoofstroomskole en dieselfde maatreëls kan ongetwyfeld nie klakkeloos op hierdie sektor toegepas word nie. Die SAOU het die gebrek aan ‘n koherente benadering geïdentifiseer. Daar is reeds met die DBO in verbinding getree om so spoedig doenlik ‘n geartikuleerde plan van aksie te ontwikkel.
7. Sal kleuterskole ook op 4 Mei 2020 heropen? Die handhawing van sosiale afstand van 1.5m sal besonder moeilik vir baie jong voorskoolse kinders wees. Daar bestaan nog geen vaste voorskrifte ten opsigte van hierdie ouderdomskohort nie. 8. Kwalifiseer skoolhoofde en/of ander onderwyspersoneel vir reispermitte? Die beroepsgroepe wat as noodsaaklike dienste kwalifiseer word vervat in regulasies wat ingevolge die Wet op Nasionale Rampe afgekondig word. Skoolhoofde en/of ander onderwyspersoneel word nie in die regulasies vermeld nie, en gevolglik sal reispermitte nie maklik uitgereik word nie. ‘n Spesiale reeling sal by die plaaslike SAPD-kantoor getref moet word. ‘n Beëdigde verklaring sal afgelê moet word oor waarom ‘n aksie, bv. besoek aan die skool, as noodsaaklik geag word. Die SAPD sal dan ‘n diskresie uitoefen en die permit uitreik, al dan nie.
9. Sal SAOU-lede versoek word om ‘n mandaat tov die heropening van skole en die opvangprogram te voorsien? SAOU-lede sal gedurende die week van 20 April 2020 versoek word om aan ‘n elektroniese mandateringsproses deel te neem en mandate tov ‘n verskeidenheid van onderwerpe te voorsien. Die mandate sal die SAOU in staat stel om op ingeligte basis met die onderwysowerhede te kommunikeer en die stem van die SAOU-lid duidelik en ondubbelsinnig te stel.
10. Wanneer word antwoorde op die talle onsekerhede soos hierbo uiteengesit, verwag? Die wêreld het laas in 1918 tydens die Spaanse Griep ‘n soortgelyke pandemie beleef. Lesse wat aldaar geleer is, kan nie sondermeer op moderne onderwystelsels van toepassing gemaak word nie. Die SAOU is geaffilieër by Education International wat 32 miljoen opvoeders verteenwoordig, en tydens telefoonkonferensies en webinaars word afgelei dat talle lande met inperkings en die gevolge daarvan op die onderwys spartel. Daar bestaan gevolglik geen maklike antwoorde en/of maklike lesse geleer van ander lande nie. In kort, SA is op ‘n steil leerkurwe en om antwoorde te vind is moeilik. Soos gestel, die beplanning en dokumente in sirkulasie is deel van beplanningsprosesse en is nie finaal nie. Sodra groter finaliteit bestaan sal dit onverwyld aan lede gekommunikeer word.



