Lees wat sê president Ramaphosa

Deel hierdie storie / Share this story

President Cyril Ramaphosa het vanaand 21 April die nasie toegespreek oor die implementering van ekonomiese en sosiale verligtingsmaatreëls gedurende die inperking en in die tydperk daarna.

Die president sê Suid-Afrika se ekonomiese en sosiale reaksie op die pandemie sal in drie fases benader word.

Daar sal R20 biljoen tot munisipaliteite se beskikking gestel word vir kos- en watervoorraad, sanitasie en veilige hawes vir diegene wat nie het nie.

Deel van die benadering behels fondsing vir die stabilisering van die ekonomie en ‘n ondersteuningspakket van R500 biljoen.

Die president sê die armoede en hongersnood in die land het in die afgelope paar weke ‘n groter probleem as ooit vantevore geraak. Om hierdie probleem te hanteer, sal daar ‘n koronavirus-toelaag beskikbaar gestel word.

Daar sal in Mei R300 vir persone wat kinder-toelae moet ontvang, beskikbaar gestel word. Die bedrag sal van Junie na R500 styg. ‘n Addisionele R260 sal ook vir die volgende ses maande aan individue sonder werk of diegene wat nie enige toelae ontvang nie, beskikbaar gestel word.

Daar is ook R50 biljoen opsy geskuif om gemeenskappe met gesinne wat in armoede leef en die meeste deur die inperking geraak word, te ondersteun.

Hy sê verder dat die regering se poging om arm gemeenskappe te ondersteun ten opsigte van kos en mediese behandeling nie genoeg is nie. SASSA sal na verwagting binne die volgende paar dae befondsing deur middel van oorbetalings en koopbewyse aan diegene wat dit nodig het, bied.

Die departement van sosiale ontwikkeling en die solidariteitsfonds sal ook binne die volgende twee weke 250 000 kospakkies aan behoeftiges voorsien.

Verder sê die president daar is R100 biljoen beskikbaar gestel vir die beskerming van huidige indiensneming en toekomstige werkskepping.

Daar word ook finansiële ondersteuning gebied aan kunstenaars, tegniese personeel, atlete, vrouens en gestremde individue.

Die president sê die land se ekonomie sal stadig maar seker nader aan sy normale funksionaliteit terugkeer. Hy sê om die inperkingsperiode te vroeg te beëindig, sal veroorsaak dat die virus en die risiko’s wat daarmee gepaard gaan net weer opduik. Die afgelope ruk se moeite en pogings om die verspreiding van die virus te voorkom, sou tevergeefs wees.

Die regering en die koronavirus-raad sal op wetenskaplike data staatmaak om die proses om die ekonomie te herstel, te benader.

Die president sê die krisis sal nie vir altyd duur nie en intussen moet Suid-Afrikaners saam staan en mekaar ondersteun.

Hy sê Suid-Afrika en die res van die wêreld sal ná hierdie pandemie nooit weer dieselfde wees nie.

Hy vertrou steeds dat die land en sy burgers ten spyte van enige uitdaging, hierdie virus sal oorkom.

President Ramaphosa sal Donderdag die nasie toespreek oor die inperking en die maatreëls wat nog gaan volg.