Tuisonderrig: Só oorleef jy as ouer

Deel hierdie storie / Share this story

Is jy een van vele ouers wat gedurende die inperking jou kinders tuis moet onderrig? As jou kind sy of haar werk vir die inperkingsperiode ontvang het en jy bereid is om te probeer help, is dit makliker as wat jy dink, sê Rozélle Rossouw, onderwyseres van graad 2-leerlinge in Kimberley.

Die onderwyseres gee vir graad 2-leerlinge klas en sy voel as ouers probeer om te help, dit nie nodig is om moedeloos te voel nie. Dit is wel moontlik om ’n sukses te maak van dié kwartaal se werk.

Goed, jou kind is by die skool in ’n roetine wat klasse, pouses, periodes en aktiwiteite behels. By die huis is die televisie of die rekenaar egter ’n aandagaftrekker en is jy onseker oor of jou kind wel genoeg aandag aan sy skoolwerk gee.

Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou kind en sy skoolwerk kan benader:

“Eerstens, bly in kontak met jou kind se onderwyser. As jy as ouer verstaan watter dele van die werk belangrik is, sal jy jou kind makliker kan help.”

“Ek sou voorstel dat leerlinge wat in hoër grade is, dieselfde aantal ure aan hul skoolwerk spandeer as wat hulle in ’n normale dag by die skool sou. Matriekleerlinge moet natuurlik steeds die ekstra tyd insit.  Dis ook belangrik dat jou kind nie uit sy of haar roetine val nie. Motiveer jou kind om op die vasgestelde tye te begin werk en ruskanse te neem.

Om self deur jou skoolwerk te gaan, kan soms veeleisend raak. Rossouw beveel aan om eers met makliker vakke te begin, daardeur te werk en daarna die moeiliker vakke aan te pak. Só raak jy nie besig met die moeilikste werk en vergeet van die res nie.

“Ruspouses is báie belangrik. Vir jonger leerlinge is drie rusperiodes van 30 minute lank genoeg en vir die ouer leerlinge, twee rusperiodes van 20 minute. Leerlinge van alle ouderdomme sukkel soms om te fokus en om ’n breek te neem, maak dit makliker. In gevalle soos hierdie is dit ook soms die beste oplossing om in ’n gesprek oor die werk met jou kind betrokke te raak. Wanneer hy of sy oor die werk gesels, is dit soms makliker om aandag te gee,” sê sy.

“Wanneer jou kind sukkel met ’n hoofstuk en jy is ook nie bekend met die onderwerp nie, maak ’n nota en lig die onderwyser in. Onderwysers verstaan die situasie waarin hulle leerlinge is en sal wanneer die skole heropen, dié hoofstukke saam met jou kind deurgaan.”

“Wees net rustig. Jou kind is ook effe onseker, so moenie kwaad raak as hy of sy sukkel om jou verduideliking van die werk te verstaan nie. Help waar jy kan en vertrou dat onderwysers die werk waaroor jou kind onseker is, sal behandel.”