Alkoholverbod: President se antwoord op versoek

Deel hierdie storie / Share this story

Ná die Gautengse Drankforum se versoek aan die president om die alkoholverbod gedurende die inperking te lig, het president Cyril Ramaphosa die regering se antwoord hierop bekendgemaak. Die forum het gedreig om president Ramaphosa hof toe te sleep, sou die versoek nie goedgekeur word nie.

Die drankforum het die versoek aan die president gerig ná die inperking tot aan die einde van April verleng is. Die eienaars van drankwinkels regoor SA verdien geen ander inkomste as dié van drankverkope nie en daarom het die forum ter wille van sy kliënte opgetree.

Die president se prokureur het namens die presidensie in ’n brief aan die drankforum gesê die verkoop van alkohol sal steeds nie gedurende die inperking toegelaat word nie. Hy raai die besigheidseienaars wat weens dié verbod swaarkry aan om finansiële verligting te bekom deur aansoek te doen vir die programme wat deur die regering aangebied word.

“Daar is nie ligtelik ’n besluit geneem oor die inperking van Suid-Afrikaners nie. Alle relevante faktore is in ag geneem en kundiges se advies is gevolg. Die belange en veiligheid van alle Suid-Afrikaners is ons eerste prioriteit.”