Voorsorgmaatreëls ná 78 in tronk positief toets

Deel hierdie storie / Share this story

Die Oos-Kaap is tans een van die provinsies in Suid-Afrika met die meeste korona-gevalle. Die departement van korrektiewe dienste in die Oos-Kaap het tot dusver 78 positiewe gevalle aangemeld.

Van die 78 positiewe virusgevalle, is 53 gevangenes en 25 tronkbewaarders. Daar is spanne gesondheidswerkers wat die simptome van die gevangenes monitor.

Dié departement het maatreëls vir inperking en behandeling by sy fasiliteite ingestel.

Voorkomende maatreëls

Die departement van korrektiewe dienste, saam met die departement van gesondheid, het ‘n lys van hospitale en gesondheidsentrums waar gevangenes vir behandeling opgeneem sal word, opgestel.

Volgens die departement word die area in en om korrektiewe dienste se fasiliteite ontsmet om die verdere verspreiding van die virus te voorkom.

Die gevangenes wat positief getoets is, se etensure is ook nou afsonderlik van die ander gevangenes s’n.

Die gevangenes word egter nie weerhou van verpligte tyd in die buitelug nie, sê die departement.

Besoektye word ook beperk en die aantal gevangenes wat op een slag by die sentrumwinkel mag koop, word beperk.

Daar word ook aandag gegee aan die hoeveelheid toiletware wat vir die gevangenes beskikbaar gestel word.

Slegs twee van 243 sentrums het tot dusver positiewe virusgevalle aangemeld.

Dit bly van kardinale belang dat die voorsorgmaatreëls in werking bly, meen die departement.