Solidariteit hof toe oor voorvereistes van noodfonds

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit sal op 28 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof sy saak aanvoer teen die Departement van Kleinsakeontwikkeling en die Departement van Toerisme oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as voorvereiste vir die ontvang van noodfondse. Dit volg nadat Solidariteit vandag ʼn kennisgewing ontvang het waarin die betrokke departemente aandui dat hulle die dringende aansoek wat Solidariteit op 30 Maart gebring het, gaan teenstaan.

“Dit is duidelik dat die regering weier om afstand te doen van sy rasse-ideologie, selfs in ʼn tyd van nood,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit. “Ons sal sulke diskriminasie nie toelaat nie.”

Solidariteit is ten sterkste gekant teen ʼn rasse-maatstaf vir die meting van behoeftes en die uitbetaling van noodfondse en dring daarop aan dat die regering duidelikheid gee oor die kriteria wat gebruik word om die toedeling van hierdie fondse te bepaal.

“Dit is in die beste belang van alle Suid-Afrikaners dat kwalifisering vir hierdie fondse nie op grond van ras bepaal moet word nie. Hierdie eensydige besluit van die regering moet hersien word en dit is ook waarvoor ons in die hofstukke vra,” voer Van der Bijl aan.
Die aansoek sluit ʼn interdik teen die uitbetaling van enige fondse in terwyl die saak hangende is. Die doel hiervan is om te verseker dat geen geld uitbetaal kan word solank kwalifisering daarvoor op ideologiese rasse-kriteria gegrond is nie.

“Alle Suid-Afrikaners moet ʼn gelyke en regverdige kans hê om te kan kwalifiseer vir die noodfondse wat die regering beskikbaar stel. Al dink die regering so, is die Covid-19-pandemie nie die perfekte geleentheid om rassediskriminasie toe te pas nie,” sluit Van der Bijl af.

Anton van der Bijl
Hoof: Arbeidsregsdienste
083 291 6855