Die manier waarop jy jou verhouding met jou eks benader, kan jou kinders se toekoms op soveel maniere beïnvloed. Almal wat by ’n egskeiding betrokke is, se lewens verander daarna vir altyd.
Ouers is soms so vasgevang in hulle eie probleme en maniere om die egskeiding te hanteer dat die kinders daaronder ly. Jou kind se emosies en die vermoë om onbekende situasies te hanteer, is die laaste ding waarmee jy in dié tyd wil sukkel.
Weet wat jou kind ervaar
Kenners het gevind dat ouers tydens die egskeidingsproses hul kinders se behoeftes voor hul eie moet stel. Die trauma en hartseer wat kinders ervaar wanneer hulle ouers nie meer saam is nie, is moeilik om alleen te hanteer.
As ouer is daar niks wat jy kan doen om te voorhoed dat jou kind in die proses seerkry nie. Die manier waarop jy dinge na die egskeiding hanteer, is egter die belangrikste.
In The Co-parenting Survival Guide praat sielkundiges Elizabeth Thayer en Jeffrey Zimmerman oor hoe jy die kommunikasie met jou eks ná jou egskeiding gesond kan hou.
Respek
Besluit om mekaar te alle tye te respekteer. Kommunikeer op ’n normale en vriendelike manier. Stel ’n voorbeeld vir jou kind. Moenie mekaar beledig nie. Wees vriendelik, selfs in tye van konflik. Moenie jou eks slegmaak by jou kinders nie.
Jou kind se behoeftes
Stel altyd jou kind se behoeftes voor jou eie. Onthou, jou kind wêreld loop nie ten einde tydens of na die egskeiding nie. Dinge soos buitemuurse aktiwiteite, vriende en belangstellings is steeds vir hom belangrik.
Tyd saam met jou kind
Respekteer die spesifieke tye wat jou eks saam met jou kind deurbring. Stel ’n ooreenkoms op en moenie laat wees vir afsprake nie.
Hanteer konflik op ’n volwasse manier
As jy en jou eks oor iets verskil, wag tot julle privaat kan praat en bespreek dit dan rustig. Moet nooit voor jou kind aan die stry raak nie.
Maniere van grootmaak
Aanvaar en respekteer die manier waarop jou eks ’n ouer vir jou kind is. Dis vir enige kind ’n moeilike situasie. Deur in ’n stryery betrokke te raak en die kind te betrek, ontstel die kind meer.
Gebruik hierdie riglyne en leiding om ‘n manier te vind om saam te werk om steeds die beste ouers te wees. Wees eerlik en hou jou oë oop vir jou eie foute.



