Die hóé van die blommetjies en die bytjies

Deel hierdie storie / Share this story

Die kinders raak nou groot, maar vir jou voel dit nog soos gister wat jy verlig gedink het dis nog lank voor jy jou hoef te bekommer oor hoe jy hulle van die blommetjies en die bytjies sal vertel.

Jy is beslis nie die enigste ouer wat senuweeagtig of ongemaklik voel om seks met jou kinders te bespreek nie. Baie ouers koop ’n boek oor puberteit of seksualiteit, gaan los dit op die kind se bed en laat die saak daar, sê Debra W. Haffner, gesondheidsvoorligter, in haar boek Beyond The Big Talk. Jy vermy miskien die praatjie, bang om te vroeg te veel detail te gee. Jy wil tog jou kind beskerm.

Navorsing het egter bewys die beste manier om jou kind te beskerm, is om juis met hom hieroor te praat. Wanneer jy seks openlik en eerlik met jou kinders bespreek, het jy ’n geleentheid om jou waardes en norme aan hulle oor te dra. Die wêreld skep reeds deur die internet, televisieprogramme en videospeletjies vir jou kinders ’n prentjie van seks en jy mag dalk net nie daarmee saamstem nie. Boonop is die skool vol maatjies wat graag dit wat hulle weer by iemand anders gehoor het, aan oningeligtes wil oorvertel.

Die geheim is om meer as een maal met jou kinders oor die onderwerp te praat, sê Haffner. Vir navorsing vir haar boek het sy met tieners gesels oor waar hulle die eerste keer van die blommetjies en die bytjies gehoor het, hoe oud hulle was en of hulle openlik met hulle ouers oor dié tipe dinge kon praat.

Tieners wie se ouers eerlik met hulle kinders oor seks gesels het, het ten tye van die onderhoude nader aan hulle ouers gevoel as dié wat by ’n vriend of ’n juffrou van seksualiteit moes hoor. Baie tieners het gesê hulle sou verkies dat hul ouers hulle van seks vertel. Die tieners kon later ook weer baie makliker oor ander sake met hulle ouers eerlik wees.

Die waarde wat in ’n opregte gesprek of twee oor seksualiteit en puberteit lê, is dus baie groter as jou onsekerheid oor hoe om die situasie te hanteer. Die belangrikste bly tog om hierdie nuwe fase in jou kind se lewe saam met hom te ontdek en te geniet. Begin die gesprek op ’n eerlike toon en laat jou kind jou lei!