Jay Benedict, die 68-jarige akteur, wat welbekend vir sy rol as Russ Jordan in die 1986-opvolgfilm Alien is, het sy stryd teen Covid-19 verloor. Sy bestuurspan het bevestig komplikasies met sy gesondheid ná hy met Covid-19 gediagnoseer is, het sy dood veroorsaak.
In ’n verklaring skryf sy span: “Dit is vir ons jammer om u te moet meedeel Jay is op 4 April oorlede weens die Covid-19-infeksie.”
Buiten sy rol in Aliens, was Benedict ook bekend vir sy rol in The Dark Knight Rises in 2012.
Benedict het een keer terugverwys na die tyd toe Alien geskiet is en gesê: “Toe ek daar aankom, was daar basies ’n staking en betoging alles ineen aan die gang. Ek onthou die assistent-direkteur wat vir my gesê het: ‘Jy het ’n slegte dag gekies om te kom skiet, ons almal loop.’”
Jay Benedict se laaste rol in ’n film was in 2017, toe hy dokter Shurman in Madame en ’n gewonde man in Hostile gespeel het.
Die akteur het in 1963 sy eerste rol op die ouderdom van 11 gespeel in die film La Bande à Bobo. Hy het in Engelse produksies, asook in Franse en Spaanse films gespeel.
Benedict word oorleef deur sy vrou, Phoebe Scholfield, en hulle twee seuns, Leopold en Freddie, asook ’n dogter uit ’n vorige verhouding.



