Wildbedryf trek swaar weens Covid-19-pandemie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Jacques Kriek (38), bestuurder en bemarker van Mattanu-privaat wildreservaat, sê Covid-19 het nog ’n terugslag vir die wildbedryf in 2020 gebring.

Hy sê alhoewel hulle wild op die plaas kan vang, is die lodge sedert die inperkingsperiode aangekondig is, toe. “Die reservaat is ons grens, ons inperkingsgebied. Niemand kom in en uit nie. Dit sal eers weer oopgemaak word wanneer die inperking gelig word,” sê hy.

Kriek het verlede week aan ’n aanlynkatalogus gewerk vir die wildveiling wat nou aanlyn beweeg het. Die aanlynveiling gaan nou vanaf 14 tot 18 April op die Wildswinkel-toep plaasvind. 

Normaalweg word die voorveilingfunksie op die Vrydag gehou en word deur ongeveer twee honderd mense besoek. Die veiling sou oor ’n naweek plaasgevind het en word gewoonlik deur byna ’n duisend mense besoek. Die was beplaning met LED-skerms, kosstalletjies en verskeie uitstallers was amper gefinaliseer. Kriek sê gelukkig het hulle betyds van die inperking gehoor en die aanlynveiling begin reël.

Toerisme loop deur onder Covid-19

Kriek sê hy moet ’n  klomp deposito’s terugbetaal. “’n Klomp ouens in die jagbedryf het jagters verloor, wat gekanselleer het as gevolg van onsekerheid. Baie van hulle moes ook deposito’s terugbetaal. Ouens het miljoene rande se wild vir die jagseisoen aangekoop en ’n klomp jagters kom al van Maart, April en Mei. Baie het uitgestel tot Junie en Julie, maar ’n klomp het gekanselleer en gesê hulle sal eers in die volgende jaar of twee terugkom,” verduidelik hy.

“Die effek van die inperking gaan ons nog vir ’n paar jaar voel. Baie ouens het ook groot finansiële verliese gemaak op die aandelebeurs. So baie van hulle gaan moontlik nie weer kom jag nie, want ’n paar van hulle is oud ook.”

Vlieëniers is gestrand

Kriek sê: “Vlieëniers is gestrand, want jy moet in jou huis sit. Net noodsaaklike dienste mag voortgaan. Ons mag veeartswerk doen. My pa mag veeartswerk gaan doen as daar ’n noodgeval is, maar geen jagte nie.”

Terugslag ná droogte

“Dit is die ergste wat ons wildbedryf en ekonomie nog getref is, vandat my pa met wild in 1984 begin het,” sê Kriek.

Hy sê sy familie het Mattanu in 1991 gekoop. “Die prys van wild het die laaste 26 jaar tot in 2015 geklim, toe was daar ’n kwaai afname in die wildbedryf as gevolg van oorproduksie en pryse wat onrealisties hoog gejaag is, met ’n klomp beleggers wat ingeklim het, en as gevolg van vraag en antwoord op die ou einde. Boonop het die bedryf nog geworstel met droogtetoestande die laaste vyf jaar. So alles het bygedra tot die afname. Die koronaviruspandemie was net nog ’n terugslag gewees,” sê Kriek.

Baie lae pryse op veiling verwag

Hy sê: “Alhoewel die veiling voortgaan, gaan die wild teen bekostigbare pryse verkoop. Ek dink ’n klomp ouens gaan begin inkoop en vir seker ’n wins maak in die toekoms as gevolg van die lae pryse. Die outfitters en jagters gaan ongelukkig nie so ‘n groot bydra maak soos wat hulle wou nie, oor onsekerheid oor hoeveel kliënte inkom.”

Onseker oor die toekoms

“Ons weet nie hoe lank die regulasies uitgerek gaan word nie. As gevolg van die impak gaan baie besighede nie hierna kan opstaan nie. Dit is ook persoonlik die moeilikste tyd omdat ons hoofbedryf die teel van wild, toerisme, jag en veeartswerk is, en dat al vier strome van inkomste vir die laaste paar weke gestuit is,” sluit Kriek af.