KIMBERLEY – Die Griesel-broers van Kimberley Snake Rescue, het Sondag 5 April ’n oproep ontvang van iemand wat ogies en twee lang tande agter ’n kas in sy erf in Carters Glen gewaar het…
Tommie van den Berg sê hy het die honde se geblaf aanvanklik ignoreer. Daar is volgens hom gereeld rondloperkatte wat die honde op hol jaag en hy het aangeneem die honde blaf vir hulle.
Hy het gister egter aanhoudend vreemde geluide gehoor en het besluit om te gaan ondersoek instel. “Ek het iets agter die kas sien sit. Toe ek nader gaan, was sy ogies en die twee lang tande al wat ek kon uitmaak. Ek het dadelik geweet dis ‘n dassie.”
Van den Berg sê omdat hy weet die dassie sou aggressief optree en byt wanneer hy bedreig voel, het hy nie probeer om hom self te vang nie. Hy het Kimberley Snake Rescue gekontak om die dassie te kom verwyder.
Ryno Griesel sê die dassie kom vermoedelik van die veld agter Carters Glen. Hy sê ook omdat die res van dié dassie se kolonie tien teen een steeds in die veld was, het hulle hom daar vrygelaat. “Dassies beweeg meestal in kolonies van vier tot ’n paar honderd en dis sy natuurlike habitat, daarom het ons hom daar vrygelaat.”
Ryno sê die dassie was onder ’n drom by die tyd wat hulle daar aangekom het. Hulle het aanvanklik gesukkel om die dassie onder die drom uit te kry, maar kon hom uiteindelik met ’n skepnet gevang kry.
As jy in enige stadium met ’n onwelkome gas by jou huis sukkel, bel een van die manne by Kimberley Snake Rescue.
Ryno Griesel – 083 444 8003
Dawie Griesel – 084 240 6353







