Generaal Constand Viljoen, die voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse weermag, mede-stigter van die Afrikaner Volksfront en later die stigter van die Vryheidsfront Plus, is gistermiddag op sy plaas in Limpopo oorlede.
Volgens die Vryheidsfront Plus was genl. Viljoen 86 jaar oud en word hy oorleef deur sy vrou en twee kinders.
Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus, het die nuus op sy Twitter-profiel bekendgemaak.
Dr. Mulder het op sy Twitter-profiel ’n video as huldeblyk aan genl. Viljoen geplaas. Hy vertel hoe hy en genl. Viljoen vir ’n aantal jaar saam in die parlement en ook die Vryheidsfront Plus gewerk het.
“Genl. Viljoen was hoogs intelligent en ’n briljante generaal. Elke keer as ons ’n terugslag moes hanteer, kon hy ’n nuwe plan beraam. Hy het sy manskappe se blinde lojaliteit en bewondering gehad,” lui een van dr. Mulder se plasings.





