Suid-Afrikaners moenie te gerus wees oor die dalende hoeveelheid nuwe korona-gevalle in SA nie, sê dr. Zwelini Mkhize.
Die minister van gesondheid het twee maal in die afgelope twee weke gesê die werklike aantal gevalle van Covid-19 is moontlik baie meer as die aantal wat aangekondig is. Hy het na die daling in die hoeveelheid nuwe gevalle verwys as die stilte voor die storm.
Die minister het Vrydag in die Wes-Kaap gesê daar is nou wetenskaplike bewyse dat meer geïnfekteerdes die virus plaaslik opgedoen het as wat aanvanklik gedink is. “Die wetenskaplike navorsing en data toon ’n verandering in die patroon van infeksies. Die eerste paar gevalle in SA is in die buiteland opgedoen, terwyl die virus nou ook plaaslik oorgedra word,” sê hy.
Dr. Mkhize sê nog geen land het vantevore ’n uitdaging soos Covid-19 gehad om te oorkom nie. “Kom ons durf hierdie onbekende pad saam aan. Kom ons vertrou mekaar, staan saam en bou aan dit wat ons kan sien werk. Kom ons ondersteun mekaar tot ons op die punt kom waar ons kan sê ons kan die uitbraak hanteer.”



