Thandi Modise moet op 8 Mei in hof verskyn

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – ’n Dringende aansoek om uitstel vir die verskyning van Thandi Modise, speaker in die nasionale vergadering, is vandag deur haar regspan in die Noord-Gautengse hooggeregshof van die rol verwyder.

Landdros Ben Mtebele het toegestem dat Modise op 8 Mei 2020 in die Potchefstroomse-streekhof verskyn om te antwoord op haar nie-verskyning en om ’n verhoordatum vas te stel.

Modise het op 24 Maart vanjaar versuim om op klagtes van dieremishandeling teen haar te verskyn.

Modise se regsverteenwoordigers het aanvanklik aansoek gedoen om uitstel weens die staat van inperking om Covid-19 te probeer bekamp. Die lasbrief vir haar inhegtenisname bly egter van krag, maar is tot 8 Mei uitgestel. Dié lasbrief is op 24 Maart uitgereik hangende haar hofverskyning op 31 Maart .

“AfriForum se privaatvervolgingseenheid het baie teësinnig nié die aansoek om uitstel tot ’n datum na afloop van die staat van inperking teengestaan nie. In die lig van die pandemie het ons egter ingestem dat Modise op 8 Mei in die hof moet verskyn. Ons argument was deurentyd dat die uitstelbevoegdheid by die voorsittende beampte berus en nie by die aanklaer nie. Die saak het egter ’n geskiedenis van nie-verskyning deur die beskuldigde en ons fokus daarop om die saak so gou moontlik tot verhoor te kry,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het verlede jaar aangekondig dat hulle Modise privaat namens die nasionale raad van dierebeskermingsverenigings (NDBV) gaan vervolg.

Volg dié skakels vir meer inligting oor die saak: