Rede agter Woolworths se geen masker-beleid

Deel hierdie storie / Share this story

Baie mense het opgelet dat meeste supermarkte se werknemers gedurende hierdie inperkingstydperk nie maskers of handskoene by die werk dra nie. Sommige voel die werknemers is blootgestel aan die virus of skep ’n risiko vir klante.

In Woolworths in die Diamond Pavilion mall is daar ’n bord opgesit wat lui dat dié winkel nie glo in die dra van maskers nie.

“Ek voel onveilig, Maar dis wat die maatskappy sê. Hulle sê ons mag nie maskers dra nie,” sê een van die werknemers by Woolworths.

Die mediakantoor van Woolworths sê die rede waarom dié winkel se werknemers nie handskoene en maskers dra nie, is omdat hulle in lyn met die Wêreldgesondheidsorganisasie vasgestel het dat die dra van maskers en handskoene geensins help om die verspreiding van die virus te voorkom nie. Volgens dié winkel se hoofkantoor is dit meer effektief om gereeld jou hande te was en te saniteer.

“Ons werknemers word gereeld ingelig oor die stand van sake in verband met Covid-19. Hulle is opgelei en ingelig oor die korrekte higiënemaatreëls wat in hierdie tydperk geïmplementeer moet word.”

Volgens die mediakantoor is daar in alle Woolworths-winkels genoeg handreiniger beskikbaar vir beide die klante en werknemers se gereelde gebruik.

“Die klante se hande word gesaniteer wanneer hulle die winkel binnekom en daar word ook lappies voorsien aan klante om hulle trollies se handvatsels af te vee.”

Die mediakantoor verseker ons dat die winkels op ’n daaglikse basis skoongemaak word.