President Cyril Ramaphosa het vanaand 30 Maart die nasie toegespreek oor Covid-19 en die inperkingsperiode.
Volgens president Ramaphosa was dit net ’n paar weke voordat Suid-Afrika dieselfde pad as ander lande sou stap. Cyril voel Suid-Afrikaners reageer redelik positief op die inperkingsperiode. Hy sê in sy toespraak dankie aan Suid-Afrikaners wat saamwerk en die reëls nakom.
Ramaphosa sê drie Suid-Afrikaners is al weens Covid-19 oorlede. Die getal geïnfekteerdes in Suid-Afrika is 1 326.
Cyril vra weereens alle Suid-Afrikaners om by hulle huise te bly en slegs vir noodgevalle die huis te verlaat. “Wanneer jy die huis verlaat, neem die nodige stappe en maak seker dat jy nie iemand anders aansteek of self aangesteek word nie,” sê hy.
Die volgende 17 dae sal volgens president Ramaphosa vir alle Suid-Afrikaners moeilik wees. “Ouers is bekommerd oor hulle kinders, werknemers is bekommerd oor hulle werk, baie is bekommerd oor bejaardes, studente mis klasse en is bekommerd oor die toekoms en diegene wat op straat bly, is sonder kos en ’n veilige hawe,” sê president Ramaphosa.
Informele besighede en entrepreneurs kry ook swaar in hierdie moeilike tyd, sê hy.
Daar is baie Suid-Afrikaners wat oorsee gestrand is en daar word beoog om hulle so gou as moontlik te help.
Die regering sal ’n “screening, testing & tracing“-program ontwikkel om persone in verskeie stede, dorpe en nedersettings vir die virus te toets. “Persone wat ligte simptome van die virus toon, sal by die huis of by ’n aangewese plek geïsoleer word. Diegene wat ernstige simptome toon, sal in hospitale opgeneem word. Diegene wat met geïnfekteerdes in kontak was, sal ook opgespoor en getoets word.”
President Ramaphosa het geen twyfel dat Suid-Afrika hierdie pandemie sal oorkom nie. “Suid-Afrikaners staan nou saam soos nog nooit vantevore nie. Baie besighede en individue maak finansiële, mediese en ander bydrae om die land te help om die virus-pandemie teen te staan.”
Daar is 18 000 sekuriteitspersoneel van die weermag, die polisie, die metro-polisie en ander sekuriteitspersoneel wat tans werk om die nodige maatreëls te implementeer. President Ramaphosa sê dié personeel is daar om Suid-Afrikaners gerus te stel en te ondersteun. “Hulle is daar om vrede onder ons te bewerkstellig en sal te alle tye volgens die wet optree,” sê hy.
President Ramaphosa sê in sy toespraak dankie aan boere en plaaswerkers wat sorg vir kosvoorraad, tegnikusse wat sorg dat Suid-Afrika elektrisiteit het, versorgers in ouetehuise en kinderhuise, taxi- en busbestuurders, vullisverwyderaars, hospitaalpersoneel en -skoonmakers en petroljoggies.
Hy sê in die middel van hierdie wêreldwye noodtoestand is daar ’n storie wat hoop en motivering bring. Die 114 Suid-Afrikaners wat van Wuhan, China na Suid-Afrika teruggevlieg is, is almal gesond en kan huis toe gaan. “Hierdie Suid-Afrikaners was vir 51 dae in China in isolasie, die afgelope 14 dae in Polokwane in isolasie en sal nou vir nog 17 dae saam met die res van Suid-Afrika in isolasie wees. Hulle is almal baie dankbaar vir die land se besluit om hulle na SA terug te bring,” sê hy. Hy bring ook spesiale dank aan die mediese personeel, polisie, weermag, lugdienste en hotelpersoneel wat gesorg het dat die isolasie van dié persone so glad verloop het.
Verder sê die president Suid-Afrika het nog nooit so ’n pandemie ervaar nie. “Ons sal foute maak, maar verwag van almal om te verstaan. Ons sal ons foute regstel so ver as wat dit vir ons moontlik is.”
Die president sê so lank as wat Suid-Afrikaners die situasie ernstig opneem, aanpas en verantwoordelik optree, twyfel hy nie vir ’n oomblik dat ons hierdie geveg teen Covid-19 sal wen nie.



