KIMBERLEY – FiND iT gesels met Adri Joubert en Frikkie Markgraaff wat in April vanjaar sou trou, maar weens die korona-uitbraak en die inperkingsperiode nie meer kan nie.
Dié bruidspaartjie het besluit om die beste van ’n ongewenste saak te maak. “Ons het nie vantevore saamgebly nie, maar nou is ons saam met die hele familie op die plaas vasgekeer. Dis eintlik ’n bedekte seën, want ons leer ken mekaar nou baie beter. Alhoewel ek nog nie by my verloofde ingetrek het nie, leer ek sommer terselfdertyd kook!”
Joubert en Markgraaff, albei Kimberliete, is al vir vyf jaar in ’n verhouding. Die paartjie is in Desember 2018 verloof en het in Januarie 2019 begin beplan aan hul sprokiestroue.
Die opgewondenheid en hartseer is duidelik in Joubert se stem as sy vertel hoe hulle in Januarie 2019 al reëlings begin tref het. “Omtrent alles was gereël. Die venue, die grimering, hare en die musiek was alles reeds betaal. Die enigste ding wat ons twee weke voor die troue nog sou betaal, is die kos. Verder was alles in plek vir die groot dag.”
Joubert sê daar sou min of meer 120 gaste hulle troue bywoon. Ná die aankondiging dat sosiale byeenkomste van meer as 100 persone verbied word, het hulle beplan om die getal gaste minder te maak. “Ek was kwaad en hartseer toe ek hoor ek sou my troue moes afstel.”
Joubert sê die venue waar hulle hul troue sou hou, was hulle baie goedgesind en het vir hulle moontlike beskikbare datums gegee, sou hulle die troue wou uitstel.
“Ons kan egter nog nie ’n datum vasstel nie. Wie weet of die lockdown slegs vir 21 dae sal voortduur? ’n Mens weet nooit.”
Joubert sê alhoewel sy aanvanklik baie omgekrap was oor die feit dat sy haar troue moes afstel, verstaan sy dit tog. Sy voel die besluit wat geneem is om die verspreiding van die virus te voorkom, is die beste vir ons land. Sy wil graag ander bruidspaartjies aanmoedig om nie toe te laat dat hierdie pandemie hulle onderkry nie.
“Wat moet gebeur, sal gebeur. Alles sal volgens die Here se tyd geskied. As julle moet trou, sal julle. Wees net geduldig en veilig en geniet die tydjie saam!”



