KIMBERLEY – Petrus Williams (55) wat al vir vier jaar in aanhouding is vir die verkragting van ’n verstandelik gestremde meisie, is vandag in die Kimberley-landdroshof tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Williams het in 2017 die meisie, wat toe 12 jaar oud was, verlei om saam met hom en twee ander persone te gaan. Dit is toe wat Williams haar verkrag het. Die hof meen die meisie kon nie sy versoek om saam te gaan van die hand wys nie as gevolg van haar gestremdheid. Tydens die verhoor het dit aan die lig gekom Williams is MIV-positief. Williams het tydens die verkragting reeds geweet hy is MIV-positief. Williams is reeds op 15 vorige kere vir onverwante misdade gevonnis.
Landdros Memory Qomoyi het gesê dit is ’n afgryslike misdaad en die staat sal dit nie duld nie.
Die ondersoekbeampte vir die saak is sers. Mogakwe.



