NOORD-KAAP – Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het gister 19 Maart die provinsiale regering se reaksie op die koronavirus en wat die Noord-Kaap gaan doen om die verdere verspreiding van die virus te voorkom, bekendgemaak.
Daar is ’n geïntegreerde nasionale reaksieplan in plek gestel om alle Suid-Afrikaanse burgers teen die uitbraak te beskerm en die gemeenskap te laat saamwerk om die uitbraak te oorkom.
“Ons reaksie op die virus-uitbraak stem ooreen met die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne. Hierdie riglyne sluit in verbeterde noodreaksie-meganismes, identifisering van moontlike gevalle, opsporing van gevalle met wie geïnfekteerdes kontak gehad het, isolasie van moontlik geïnfekteerde persone en die aanmoediging van self-isolasie van persone wat ligte respiratoriese simptome toon.”
Dr. Mkhize sê hy is oortuig daarvan dat dié maatreëls wat deur die regering in plek gestel is, help om die verspreiding van die virus te voorkom.
Hy het ook bevestig daar is al 17 persone in die provinsie vir die virus getoets, maar nie een se toetsuitslae was positief nie.
Wat onderwys betref, het dr. Mkhize gesê alle skole in die provinsie het Woensdag gesluit en open weer op 14 April 2020. Om hierdie verlore skooldae in te haal, sal die Junie-vakansie vanjaar met sewe dae verkort word en die September-vakansie met drie dae.
Dr. Mkhize sê daar sal ’n bewustheidsveldtog aan die gang gesit word om persone in die provinsie bewus te maak en in te lig oor die virus.
“Die publisering van verkeerde en ongeverifieerde inligting aangaande hierdie uitbraak is onwettig en persone wat hulle skuldig maak hieraan sal volgens wet gestraf word.”
Verder sê Mkhize die provinsie en die nasie het al saam baie dinge oorkom en hy is seker dat as almal saamwerk en riglyne volg, ons binnekort weer na ’n normale leefwyse sal terugkeer.






