Covid-19: Kroeë maak nou vroeër toe

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – President Cyril Ramaphosa het Sondagaand die Covid-19-uitbraak as ’n nasionale ramptoestand verklaar.

Daar is streng maatreëls ingestel om die verdere verspreiding van die virus te voorkom. Die regering het in die staatskoerant ’n beroep gedoen op alle kroeë en klubs in Suid-Afrika om saans om 18:00 hulle deure te sluit en eers weer die volgende oggend om 09:00 oop te maak om sodoende higiënebeheer uit te oefen.

FiND iT gesels met die gewilde kroeë in Kimberley oor die impak wat hierdie maatreëls op hulle besighede het en hoe hulle daaroor voel.

“Ek het klaar in die afgelope ruk besigheid verloor. Dis nie net die kroeë en klubs wat hieronder ly nie. Ek het maar gisteraand om 18:00 my kroeg se deure gesluit en ek sal vanaand weer. Daar is niks wat ek daaromtrent kan doen nie. Al wat ons kan doen, is om so na aan moontlik aan die president se riglyne vir higiënebeheer te bly en te wag vir dinge om rustiger te raak,” sê die eienaar van ’n plaaslike kroeg.

Een van die ander kroeë in Kimberley se eienaar sê dat sy in geen stadium ’n amptelike opdrag van die regering ontvang het om haar kroeg se deure te sluit nie. Sy sê sy het vyf sanitasiestasies in haar kroeg ingerig sodat haar kliënte gereeld hulle hande kan was. “Ons toilette word ook gereeld en deeglik skoongemaak.”