Veral in die tyd wat daar soveel vrees in die wêreld heers, soek soveel mense na iets om aan vas te hou.
Hennie Terblance, inwoner van Stellenbosch, het onlangs op Whatsapp ’n stemopname aangestuur waarin hy die belangrikheid van dankbaar wees beskryf.
“Die virus is ’n waarheid en ons kan dit nie wegredeneer nie. Ons doen wat ons kan doen. Was jou hande en doen wat die kenners sê jy moet doen.
Hy sê ook dat dit nie help om jouself te bekommer en toe te laat dat die paniek jou liggaam en jou kop oorneem nie.
“Hierdie vrees en dit wat tans in die wêreld aangaan, is astronomies. Die ekonomiese, fisiese en emosionele impak wat die vrees vir die virus op die wêreld het, is groot. Die verdere impak van die vrees in die toekoms kan net toeneem en baie meer skade aanrig as wat die virus kan,” sê Hennie.
“Ons liggame is fenomenaal geskape. Ons immuunstelsels het die vermoë om enige kiem te beveg. Deur die jare in die wêreld waarin ons is, met onkunde, twyfel en ons ongesonde manier van leef, het ons as mens nooit by ons ware identiteit uitgekom nie.
“Medici het navorsing gedoen oor ons liggame, gesondheid en immuunstelsels. Elke sel in ons liggame vervaardig ’n sekere proteïene wat daardie afdeling in ons liggaam onderhou. Die proteïen wat ons immuunstelsels versterk, word IgA genoem. Die mediese groep het 70 vrywilligers gevra om die hoeveelheid IgA-selle in hulle bloed te toets. Die 70 vrywilligers is toe gevra om vir vier dae lank, elke oggend, middag en aand vir 10 minute stil te raak en dankbaar te wees. Na vier dae is die vrywilligers se hoeveelheid IgA-selle weer getoets. Die gemiddelde verhoging in die IgA-telling was 49.5%.
“Wat die medici hierdeur probeer bewys, is dat ons denke ’n massiewe impak het op die samestelling van ons immuunstelsels en ons liggame.
Elke gedagte is aan ’n emosie gekoppel. Elke emosie is aan ’n sekere chemiese reaksie wat dadelik in ons bloedstroom vrygestel word, gekoppel.
Elke gedagte is die vloei van ’n chemiese proses in jou liggaam. Goed of sleg.
“As ek my met negatiwiteit, jaloesie, stres, vrees, haat en oordeel besig hou, neem dit dus my hele liggaam oor. Hoe meer ek my met positiwiteit, dankbaarheid, vergenoegdheid en liefde besig hou, hoe meer word my liggaam en immuunstelsel versterk.
“Doen die fisiese goed wat van jou verwag word, maar moenie met negatiewe praatjies en stories betrokke raak nie.”
Hennie verwys ook na die film Patch Adams. In hierdie film besef ’n dokter dat die morbiede atmosfeer in ’n hospitaal niemand gaan help om gesond te word nie. Dié dokter het toe besluit dat hy ’n positiewe impak op pasiënte se gesondheid wil maak, deur ’n hospitaal op te rig waar pasiënte kan lag. Die gevalle van pasiënte wat in dié hospitaal genees het, is bonatuurlik. Die impak wat die vreugde op die pasiënte se toestande gehad het, was baie positief.
“Oefen jou in om in dankbaarheid en vreugde te leef. Ons neem die lewe te ernstig op. Praat daaroor, selfs al is dit met jouself, sing daaroor, wees dankbaar en versterk só jou immuunstelsel.
“Ons het nie nodig om deur hierdie vrees ingesluk te word nie. Ons hoef nie ’n slaaf daarvan te word nie.”



