Babaseun gebore in straat

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die vrou wat Sondagaand geboorte geskenk het in die straat op Bobo se plaas, Lerato Park, het ’n gesonde babaseun die wêreld ingebring.

Neo Marope het op die vrou afgekom waar sy reeds begin kraam het. Marope het op Sol Plaatje Community Forum se Facebook-blad gesê daar is ’n ambulansdiens geskakel, maar die baba was reeds gebore. “Weet enigiemand hoe om ’n naelstring te knip?” het Marope in sy Facebook-plasing gevra.

Die gemeenskap het dadelik ingespring om te help en het hom afgeraai om die naelstring te knip alvorens die paramedici nie op die toneel is nie. Die gemeenskap was ook bekommerd omdat die baba in die straat gebore is. Motlale Seleka sê op die Facebook-plasing die baba kon moontlik infeksie opdoen.

Marope het omstreeks 20:00 gisteraand die gemeenskap laat weet die ma en baba is heeltemal gesond en het goed herstel. “Dankie, vir almal se hulp en gebede.”