NOORD-KAAP – Die ANC in die Noord-Kaap het dit goedgedink om ’n Noord-Kaap-sokkerspan vir die Absa Premier Sokkerliga (PSL) te koop en belastingbetalers sal vir die rekening verantwoordelik gehou word.
Die provinsiale regering sal ongeveer R30 miljoen opsy moet sit om ’n sokkerspan te koop. Die nuwe span sal as die Noord-Kaapse sokkerklub bekendstaan.
Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die Noord-Kaap, het gesê die idee om ’n sokkerspan vir die Noord-Kaap te koop, het tydens ’n vergadering van die provinsiale uitvoerende komitee in September ontstaan.
“Die Vrystaat grens aan die Noord-Kaap en hulle het sokkerspanne daar wat aan die PSL deelneem. In die Noord-Kaap wil ons begin om sporttoerisme te bevorder,” sê Ngxanga.
Volgens Ngxanga het die uitvoerende komitee die planne om ’n sokkerspan te koop aan die Noord-Kaapse provinsiale regering oorhandig om die bal aan die rol te sit en om daarvoor te betaal.
Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, het gesê provinsiale partystrukture kom met hul eie programme, deur sportaktiwiteite te bevorder, vorendag. Dit help om beleggings te lok en mense in die provinsie te verenig.
Ngxanga sê die provinsiale regering sal ten minste R30 miljoen moet betaal om die span te bekom. “Die ANC sal nie ’n enkele sent daarvoor betaal nie.”



