Is jy bygelowig? Glo jy aan Vrydag die 13de? Bang wanneer jy ’n swart kat sien?
Volgens Wikipedia is ’n bygeloof enige geloof of praktyk wat beskou word as irrasioneel of bonatuurlik, byvoorbeeld as dit voortspruit uit onkunde, ’n misverstaan van wetenskap of oorsaaklikheid, ’n positiewe geloof in die lot of toorkuns, of vrees vir dit wat onbekend is. Dit word algemeen toegepas op oortuigings en praktyke oor geluk, profesie en sekere geestelike wesens, veral die opvatting dat toekomstige gebeure voorspel kan word deur spesifieke (oënskynlik) onverwante vorige gebeure. Die woord bygeloof word dikwels gebruik om te verwys na ’n godsdiens wat nie deur die meerderheid van ’n bepaalde samelewing beoefen word nie, ongeag of die heersende godsdiens beweerde bygelowe bevat.
Hier is ’n paar snaakse bygelowe:
- ’n Swart kat is slegte geluk.
’n Swart kat word ook geassosieer met slegte geluk en die dood. Dit blyk hierdie vrees vir swart katte spruit uit die Middeleeue toe ’n dier met donker vere of pels, insluitend kraaie, die dood aangedui het.
- ’n Gebreekte spieël bring sewe jaar se slegte geluk.
In die geskiedenis het Romeine geglo spieëls het magiese kragte en dat dit ’n deur na jou siel is. Hulle het ook geglo ’n spieël kan mense die mag gee om die toekoms te voorspel. Sou ’n spieël breek, sal dit sy magte beëindig. Die siel sal skei van die liggaam en ongeluk sal rus op die een wie se weerkaatsing dit laas gehou het. Hulle het ook geglo dat die refleksie eintlik die siel van die werklike persoon is.
- Om onderdeur ’n leer te loop, is slegte geluk.
Ondanks die feit dat dit om baie voor die hand liggende redes gevaarlik is, glo die meeste mense hierdie bygeloof is gebaseer op die antieke Egiptenaars se geloof dat ’n driehoek ’n heilige vorm is. ’n Leer wat teen die muur leun, vorm ’n driehoek en Egiptenare beskou hierdie vorm as heilig, soos wat byvoorbeeld in die piramides gesien kan word.



