Mense wat argumenteer dat Covid-19 nie ’n groter probleem as griep is nie, ignoreer die feit dat ons nie ’n natuurlike immuniteit en ook geen entstowwe teen dié virus het nie, berig NewScientist.
Die koronavirus het nuus regoor die wêreld die afgelope paar weke gedomineer.
Volgens NewScientist het China, wat een van die grootste bevolkings op die planeet het, ’n hele provinsie gesluit om die verspreiding van die virus te bekamp, maar daar is nou wêreldwyd ’n eksponensiële toename in gevalle.
Die hele wêreld praat oor die virus, aangesien baie mense oor die risiko’s vir hulself of hul geliefdes bekommer is. Dit is geen wonder dat fopnuus en selfs samesweringsteorieë floreer nie, en dat waarskuwings om gereed te wees vir selfisolasie tot paniekaankope gelei het nie.
Volgens NewScientist is die siening dat die sterftesyfer minimaal sal wees, en dat die nuwe virus nie meer noemenswaardig as griep nie is en dat die ekonomiese skade van die beperkings nie die lewens wat dit kan red, nie regverdig nie. Die media word intussen daarvan beskuldig dat hulle paniek saai.
Maar soos Michael Leavitt, ’n voormalige Amerikaanse sekretaris van gesondheid, dit verlede week gestel het: ‘Enigiets wat voor ‘n pandemie gesê word is net ’n waarskuwing. Ná ’n pandemie begin het, is alles wat mens gesê of gedoen het onvoldoende.”
Die beste inligting wat nou beskikbaar is, dui op ’n sterftesyfer van ongeveer 0,7 persent. Volgens NewScientist beteken dit dat die Covid-19-virus die potensiaal het om ’n groot aantal mense wêreldwyd dood te maak. Die virus verskil van griep deurdat daar nie ’n wydverspreide immuniteit daarteen is nie – die enigste mense wat waarskynlik immuniteit het, is diegene wat dit al gehad het.
Anders as vir griep is daar geen inenting vir diegene wat die kwesbaarste is, beskikbaar nie.



