Pensioenfondse dalk geallokeer

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Sal jy jou swaarverdiende inkomste, waarvoor jy jou hele lewe lank gewerk het, opgee om ’n monopolie te help om sy skuld te delg? Is Suid-Afrika se resessie besig om jou pensioen negatief te beïnvloed?

Quintin Kannemeyer, die verkoops- en bedryfsbestuurder van die land se grootste suiwelmaatskappy, sê  aan FiND iT die regering is net ’n entiteit wat nie deur profyt bedryf word nie.  “In die privaat sektor sal ’n besigheid se deure oopbly indien dit winsgewend is. Wanneer die regering ’n tekort het aan inkomste, word belasting verhoog en só word hul fondse ingesamel.”

“Die probleem duik op wanneer werknemers geld vanuit hul pensioenfondse belê om sodoende meer inkomste te bekom vir hul oudag. Daardie bedrag wat belê is, moet groei ondanks inflasie. Jare terug was R 1 miljoen nog baie, maar dit gaan vandag byna onmoontlik wees om vir 30 jaar of langer van R 1 miljoen se rente te leef,” sê Kannemeyer.

Aletta van Niekerk, ’n Kimberley-inwoner en bankbestuurder, sê die pensioenfonds het in minder as ’n maand baie skerp gedaal. “Die pensioenfonds daal veral baie vinnig en drasties wanneer die land in ’n resessie is.”

Die probleem met Kimberley se ekonomie duik by dienslewering op. “Daar is ’n handjievol mense wat werk en wat belasting betaal en die meerderheid kry toelaes. Hoe lank gaan belastingbetalers sukkel om weer die lewenspeil waaraan hulle gewoond was te handhaaf voor inflasie toegeslaan het? Gaan die inwoners van Kimberley, waarvan die meerderheid die werkersklas is, die infrastruktuur, die dienslewering en ook die staatstoelaes kan dra? Dit alles terwyl almal se pensioenfonds daal?” sê Kannemeyer.

Pres. Cyril Ramaphosa het na sy opsomming van die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (SANEF) in Kaapstad gesê Suid-Afrikaners sukkel oor die algemeen om geld te spaar. Die ekonomie van die land is afhanklik van Eskom se ommeswaai. Indien die monopolie sukkelend bly, sal pensioenfondse daaraan geallokeer word. Dit beteken die pensioenfonds sal moontlik triljoene rande se verlief ly om die monopolie te red.

Sal jy jou pensioen opoffer om ’n staatsinstansie van totale ondergang te red?