TWEESPRUIT – Die polisie ondersoek ’n saak van moord nadat die verbrande liggaam van ’n 43-jarige man deur ’n drawwer tussen Thaba Nchu en Tweespruit ontdek is.
Sers. Martin Xuma, polisiewoordvoerder, sê ’n verbyganger het op Saterdag 7 Maart omstreeks 04:45 op die slagoffer se liggaam afgekom.
Die polisie is ontbied en ’n voorlopige ondersoek is ingestel. Xuma sê dit is later vasgestel dat die man as ’n vermiste persoon by die Boithuso-polisiekantoor aangemeld is.
Xuma sê die slagoffer is laas op 29 Februarie by ’n plaaslike taverne in Section F gesien. Hy het ’n silwer Toyota Corolla met registrasie 839 FS bestuur. Die polisie is nog opsoek na die voertuig.
Enigeen met inligting in verband met die saak kan vir speurder-a.o. Michael Mathoka by 082 466 7899 skakel. Die ondersoek duur voort, sluit Xuma af.
Tweespruit is ’n klein melkboerdery-dorp in die Vrystaat. Die dorp lê 27 km oos van Thaba Nchu en 47 km noord van Hobhouse.



