KIMBERLEY – Die dame wat almal altyd so vriendelik groet. Die een wat diep spore in kliënte, kollegas en vriende se harte getrap het. Die eerste stem wat jy hoor wanneer jy Absa-bank skakel. Die dame wat jare se herinneringe geskep het. Sy is ná 45-jaar se diens glad nie lus vir aftree nie.

Gerda Louw, die dame wat nie die woord “pensioen” wil hoor nie, sê die gevreesde dag het uiteindelik aangebreek. “Kliënte het vriende geword. Kliënte het ook gereeld kom inloer om te sien hoe die vrou agter die stem lyk. Ek is dankbaar vir elke persoon wat my pad gekruis het en sal altyd die spesiale tye koester.”
Louw is al as Noord-Kapenaar van die jaar vir haar welsynswerk genomineer.

“Die bank het mooi na my gekyk en my beloon met twee vakansies oorsee ingevolge die bemarking wat ek gedoen het en ook oor die diens wat ek gelewer het,” vertel Louw.

Louw is lewenslustig en sien kans vir nuwe uitdagings. “Ek is beslis beskikbaar vir nuwe uitdagings, want ek is eintlik mos nog jonk.”



