KURUMAN – Die ietermagô is die enigste soogdier wat geheel met skubbe bedek is. Ironies is die doel van hierdie skubbe om die saggeaarde soogdiertjie teen roofdiere te beskerm. Ongelukkig is die mens hierdie dier se grootste bedreiging.
Die ietermagô het die titel regoor die wêreld as die soogdier waarmee daar die meeste onwettig gehandel word, verwerf. Daar is agt verskillende soorte van hierdie spesie waarvan vier soorte in Asië en vier soorte in Afrika voorkom.
Die skubbe van hierdie dier is wat moontlik, deur die toedoen van die mens, kan lei tot die uitsterwing van die spesie. Al agt van hulle.
Die skubbe van die ietermagô word in Asië lande, veral in Sjina en Vietnam, vir tradisionele medisyne gebruik. Daar word geglo die skubbe het genesende eienskappe. Die skubbe bestaan uit keratin, dieselfde stof waaruit ’n mens se hare en naels bestaan, wat beteken die skubbe het geen medisinale waarde nie.
Die ietermagô word ook in sekere lande as ’n gesogte dis beskou. Daar is geen geskatte totaal van hoeveel ietermagô’s in die wêreld oor is nie. Na bewerings is daar meer as ’n miljoen van hierdie diere tussen 2000 en 2013 uit die natuur verwyder.
’n Man, Denzil Feris (36), is op Wrenchville in hegtenis geneem.
Brig. Mohale Ramaseba, woordvoerder van die polisie, sê Feris is ná ’n leidraad aan die polisie vanaf die gemeenskapslede vir die onwettige besit van ’n ietermagô in hegtenis geneem. “Die verdagte wou vermoedelik ook die ietermagô verkoop.”
Feris het op 2 Maart in die Kuruman-landdroshof verskyn. Hy is op borgtog van R2000 vrygelaat.
Die saak is tot 19 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.



