Man sterf tragies na motorfietsongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

UPINGTON – Die 34-jarige Zakkie Stubbe is Maandag oorlede na hy Saterdag in ’n motorfietsongeluk beseer is.

Stubbe, ’n lid van die Wild Bulls-motorfietsklub op Upington, het in Saterdag se ongeluk ernstige breinbeserings opgedoen en is by Lenmed Kimberley-hospitaal behandel, waar hy Maandag oorlede is.

Jan Nel (55) en Stubbe was ongeveer 15:00 Saterdag in ’n ongeluk op die N14. Hulle was op pad van Keimoes na die Biker Angel’s Jol op Upington.

Carol Lourens, woordvoerder van die Wild Bulls-motorfietsklub, sê ’n ambulans het hulle na die Mediclinic op Upington geneem.

Volgens Lourens was Stubbe in ’n koma en is hy Maandag na die Lenmed Kimberley-hospitaal oorgeplaas, waar hy Maandagmiddag as gevolg van bloeding op sy brein oorlede is.

Stubbe word deur sy vrou en twee kinders oorleef.