KIMBERLEY – ’n Inwoner van Blackbeardstraat in Greenside het vanoggend geval en vir amper drie ure vir die ambulans gewag. Fiona Swanepoel (65) vertel hoe sy net voor 12:00 voor haar huis duiselig geraak het.
Swanepoel kon haarself nie ophelp nie en het eers net in die straat gelê. Engela Boshoff, ’n verbyganger, het haar uit die straat gehelp en op die sypaadjie neergelê tot die ambulans haar kon kom haal.
“Ons het drie ure lank vir die ambulans gestaan en wag. Ek was te bang om haar te probeer ophelp of haar by my huis in te neem. Sy het gesê sy het baie pyn en toe dink ek sy het miskien ’n been gebreek.”
Swanepoel het buiten ’n paar stukkende merke op haar gesig, nie ernstig seergekry nie, maar die ambulans het haar na die hospitaal geneem.
Die noodwerker wat Swanepoel by die ambulans ingehelp het, het met FiND iT gepraat oor waarom die ambulans so lank geneem het.
“Ons probeer ons bes. Daar is net vier ambulanse in Kimberley. Daar is meer as 1 800 noodsituasies per maand waarna ons moet uitry. As die pasiënte die ambulansnommer bel, kry die beheerkamer die oproep. Hulle bel ons dan weer. Dis nie altyd in ons hande om vinnig op ’n toneel te kom nie.”



