Vrou val haar dood… Maar hoe?

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Vanoggend ongeveer 07:00 is ‘n vrou (65) se lyk deur ‘n verbyganger in ‘n gangetjie langs een van die woonstelle in Jonesstraat in die middestad gevind. Sy het op die grond gelê na sy glo óf van die gebou af gestamp is of gespring het.

Paulina Fisher (65) het eerste op die bewustelose vrou in die gangetjie langs African Discount Shop afgekom.

“Ek het dorp toe gekom om my pensioen te kom afhaal. Ek het ‘n gil gehoor en dadelik in die straat gesoek na iemand wat dalk seergekry het. Dis toe ek by die gangetjie inkyk, wat my hart amper gaan staan het.”

Fisher sê sy kon nie mooi uitmaak nie, maar sy kon ‘n plas bloed om die vrou se kop sien. Volgens Fisher was daar ‘n venster reg bo die vrou wat oop gestaan het.

Fisher en een van die winkels in die straat se eienaars het dadelik die polisie ontbied.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, het bevestig die vrou is oorlede. ‘n Ondersoek is tans aan die gang om agter die kap van die byl te kom.

Foto: Die polisie is op die toneel.