Skoonmaak van begraafplaas verwelkom

Deel hierdie storie / Share this story

KROONSTAD – AfriForum verwelkom die Moqhaka-munisipaliteit se spoedige optrede om die rioollek by die konsentrasiekampbegraafplaas in Kroonstad te herstel nadat die organisasie die munisipaliteit op 25 Februarie 48 uur gegun het om die lek te herstel.

Die Moqhaka-munisipaliteit het op 27 Februarie laatmiddag begin om die lek oop te grawe sodat hulle dit kan herstel. Die lek het veroorsaak dat riool en afvalwater oor die konsentrasiekampgrafte spoel wat erge skade aangerig het.

Die munisipaliteit het ook na die organisasie uitgereik en inligting oor die probleem en wanneer hulle beoog om dit ten volle te herstel verskaf. AfriForum het hulp in dié verband aangebied en het ook ’n dringende vergadering vir Maandag 2 Maart belê om die situasie te bespreek.

“AfriForum sal deurentyd druk op die munisipaliteit uitoefen en opvolg oor wanneer die probleem heeltemal herstel gaan word. Dié begraafplaas vorm ’n groot deel van ons erfenis, en daarom is dit uiters belangrik om dadelik aandag aan probleme te gee wat ons erfenis bedreig,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.