August 4, 2021

SA-vroue veg terug

KIMBERLEY- SA Women Fight Back (SAWFB) het as ’n Facebook-blad begin en is vandag ’n nie-winsgewende organisasie wat vir vroue en kinders regoor Suid-Afrika se regte opstaan.

Op 7 Maart 2020 vind daar ’n vreedsame nasionale protesoptog plaas waarin die regering weereens van vroue en kinders in die land se regte wat geskend word, bewus gemaak sal word.

Debbie Engelbrecht, voorsitter van SAWFB, sê in die nasionale persverklaring die dag sal met optogte en vreedsame betogings begin. “Die gebeure sal volg op die aflewering van die SAWFB se 16 Promises-petisie, saam met die versoekskrif van die geslagsgeweld-aktivis, Laura-Lee Gillon, wat van die regering eis om die straf vir geweld teen vroue en kinders in Suid-Afrika te verhoog.”

Die versoekskrif het tot op hede meer as 530 000 handtekeninge.

Een van die versoeke van SAWFB is dat gewelddadige misdadigers wat vroue en kinders te na kom tot lewenslange tronkstraf met geen vrylating op parool gevonnis word.

“As dit geïmplementeer is, sou ons volk nie vandag oor die dood van die 8-jarige Tazne van Wyk treur nie. Genoeg met vertragings, genoeg met beplanning, genoeg met praat,” sê Engelbrecht.

Daar sal op 7 Maart 2020 ook optogte, vreedsame betogings en verskeie veldtogte van SAWFB in Kimberley plaasvind.

Jy is vry om die petisie te teken by: https://www.sawomenfb.co.za/petition/16-promises-mr-president

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *