NOORD-KAAP – Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het verskeie planne vir die provinsie by die provinsiale rede bekendgestel.
Saul sê die die keuses en beleggings wat ons vir die volgende vyf jaar maak, sal gebaseer wees op ’n verstandhouding tussen die regering, arbeid, besigheid en die burgerlike samelewing.
“Die toekoms van werksgeleenthede word nie net deur digitale vereistes aangedryf nie, maar ook deur menslike faktore. Dit is belangrik om die nuwe geleenthede vir werksgeleenthede en vaardigheidsontwikkeling wat die 4IR bied, te benut. Dit sal ons in staat stel om die provinsie op ’n pad van volhoubare ontwikkeling te plaas. Ingrypings is op verskeie fronte ingestel. Hierdie intervensies sluit die benutting en maksimalisering van die potensiaal van innovasie en tegnologie in,” sê Saul.
Die ingrypings sluit in:
- Die bekendstelling van robotika en programmering deur die onderwysdepartement om digitale vaardighede in ons skoliere aan te wakker.
- Hierdie jaar stel ons ook ’n aanlyn-leerstoelatingstelsel bekend. Dit sal aanlyn registrasie en plasing van kinders moontlik maak.
- Die departement van sport, kuns en kultuur verwesenlik ook aktief sy verpligtinge om toegang tot die internet as ’n reg te bevorder. Dit het omtrent al ons biblioteke met die internet verbind.
- Die departement van paaie en openbare werke het reeds ’n 3D-drukker-afdeling vir ingenieurs en ontwerpers geïnisieer om hul ontwerpe eers met behulp van rekenaargesteunde tegnologie te prototipeer.
- GovChat is ook bekendgestel, wat ’n sosialemediaplatform is wat help om die openbare deelname en die reaksietyd op klagtes oor dienslewering op ’n munisipale vlak te verbeter.
- Planne vorder om die Computer Aided Ambulance Dispatch-stelsel in alle nood-inbelsentrums te implementeer. Dit sal verseker dat die kommunikasiestelsels geoutomatiseer en gemoderniseer om die reaksietyd van ambulanse te verbeter.



