LUR vra vir verantwoordelike grondgebruik

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP – Nomandla Bloem, LUR vir landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling en natuurbewaring, het die verlangde reënval in sommige dele van die provinsie verwelkom.

Verskeie streke in die Noord-Kaap het heelwat reën ontvang wat daarin geslaag het om die versengende hitte te onderdruk en die broodnodige weiding aan vee te verskaf.

“Die reën het op die regte tyd gekom om die droogte te beëindig wat meeste van ons vee en gewasse gekos het. Steeds is daar gedeeltes in die provinsie soos die Namakwa, ZF Mgcawu en gedeeltes van die Pixley ka Seme-distrik wat deur droogtestoestande getrotseer word.”

Bloem het aangedui dat die R30 miljoen wat verlede jaar vir droogteverligting opsygesit is, kom handig te pas omdat die meeste boere daarin geslaag het om voer aan te koop danksy ingryping deur die departement. 

’n Beroep op verantwoordelike grondgebruik

Bloem waarsku boere egter om grond op ’n meer verantwoordelike manier te gebruik, veral in gebiede met Harpuisbos (Gnidia Buchellii).

Harpuisbos is een van die mees aggressiewe indringers wat inheemse plantegroei kan binnedring en vervang.

Die plant kompeteer met gras vir water en verdring uiteindelik die bestaande gras uit en val die gebied binne.

“Die bestaan van die plant beïnvloed meeste gebiede drasties, omdat dit die landbouproduktiwiteit sowel as die natuurlike ekosisteme bedreig. Dit kan die kapasiteit van weidinggrond drasties verlaag,” sê  Bloem.

Grondbewaring

Die grond van Suid-Afrika is oor die algemeen sensitief, broos en is geneig tot gronddegradasie deur gronderosie, wat ’n natuurlike proses is totdat dit deur menslike aktiwiteite soos ontbossing, oorweiding, brande en konstruksie-aktiwiteite, versnel word.

Bloem sê die agteruitgang bedreig steeds die plaaslike hulpbronbasis “waarvan landelike gemeenskaplike se lewensbestaan afhanklik is en dit word veroorsaak deur ’n kombinasie van armoede en die afwesigheid of versuim van grondgebruikregulasies.”