Aarde vang glo nuwe maan in gravitasie

Deel hierdie storie / Share this story

INTERNASIONAAL – Die aarde het moontlik ’n mini-maan, wat ’n asteroïde die grootte van ’n voertuig is, tydelik in sy gravitasie vasgevang. 

Volgens NewScientist het sterrekundiges op 19 Februarie by die Catalina Sky Survey in Arizona die dowwe voorwerp, genaamd 2020 CD3, gesien wat vinnig deur die ruimte beweeg het.

Die voorwerp is oor ’n week deur verskeie observatoriums regoor die wêreld dop gehou. Hulle kon sy wentelbaan bereken en bevestig dat dit ongeveer vir die volgende drie jaar om die aarde gaan wentel.

In ’n aankondiging deur die Minor Planet Center, wat klein satelliete in die ruimte monitor, is daar “geen verband met ’n bekende kunsmatige voorwerp gevind nie”, wat impliseer dat dit waarskynlik ’n asteroïde is.

Die wentelbaan is nie stabiel nie, dus sal 2020 CD3 uiteindelik van die aarde weggeskiet word.