Optog oor korrupsie bring verkeer tot stilstand

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Aantal lede van die nasionale onderwys-, gesondheid- en verwante werkersvakbond (Nehawu) het vanoggend die verkeer in die middestad tot by die kantoor van die plaaslike regering, by die JW Sauer-gebou, tot stilstand gebring in ’n optog teen korrupsie.

Volgens ’n persverklaring deur Nehawu ondersteun lede ’n memorandum en veldtog teen korrupsie en plundering van staatskoffers.

“Werkers gaan voortdurend gemobiliseer word en dit sal ’n terugslag vir korrupsie en plundering van openbare vondste, wat bedoel is vir die verbetering van die samelewing, wees.”

Die memorandum versoek die volgende:

  1. Die onmiddellike skorsing en verwydering van alle departementshoofde wat vir korrupsie aangekla is, aan korrupte aktiwiteite deelgeneem het, of in verslae van instansies wat onder hoofstuk 9 van die konstitusie geskep is, aangehaal is.
  2. Die skorsing van senior bestuurders met hangende sake van korrupsie en geslagsgebaseerde geweld in alle departemente en provinsiale agentskappe.
  3. Die vrystelling van verslae oor wangedrag van bestuurders en senior amptenare vir die afgelope tien jaar.
  4. ’n Beëindiging van inmenging in unie-aangeleenthede deur departementshoofde en ander senior amptenare.
  5. Die beskerming van klikkers van korrupte aktiwiteite en die beëindiging van die vikitimisasie van lede en verteenwoordigers.