Mensehandel

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Die polisie wil die gemeenskap meer inlig oor mensehandel. Mensehandel in Suid-Afrika is ’n misdaad en ’n groter werklikheid as wat mense besef.

Mensehandel is ’n wêreldwye misdaadtendens. Dit gebeur wanneer kinders, vrouens en mans met geweld uit hul eie lande of gebiede, na ’n bestemmingsland of bestemmingsgebied geneem word. Dit gebeur ook wanneer slagoffers as gevolg van onderdrukking in ’n situasie geplaas word waar hulle uitgebuit kan word.  

Aangesien mensehandel dikwels ’n misdaad is wat sigbaar is, is dit belangrik om van die waarskuwingstekens bewus te wees. ’n Aanduiding van ’n persoon wat moontlik ’n slagoffer van mensehandel kan wees, is ondermeer:

  • Die persoon kom ondervoed voor.
  • Die persoon toon tekens van liggaamlike beserings en mishandeling.
  • Oogkontak, sosiale interaksie en gesagsfigure word vermy.
  • Dit lyk asof die slagoffer onder die invloed van dwelms of alkohol is. Die slagoffer word saam met ’n persoon aangetref wat wil bepaal waar die slagoffer gaan en nie toelaat dat die slagoffer self praat nie.
  • Die slagoffer het gewoonlik ’n gebrek aan identiteitsdokumente.
  • Die persoon het ’n gebrek aan persoonlike besittings en kan behoeftig voorkom.
  • Die slagoffer word nie toegelaat om alleen in die openbaar te verskyn nie en mag ook nie vir hulself praat nie.

Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir dit en om enige verdagte aktiwiteite aan te meld.