Moenie brandstofbelasting verhoog nie Minister, sê AA

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Die Automobiel-Assosiasie (AA) sê Tito Mboweni, minister van finansies, word deur ernstige uitdagings gekonfronteer terwyl hy voorberei vir die 2020-begroting wat hy Woensdag in die parlement gaan voorlê.

Volgens die AA sal ’n verhoging in brandstofbelasting veral vir die armstes ’n gevaarlike en uiteindelik skadelike taktiek wees. 

“Vorige jare het inflasie ’n rol gespeel wat ’n verhoging in verskeie belastingopgawes veroorsaak het. Daarom sal dit uiters nadelig wees om soortgelyke verhogings hierdie jaar toe te pas, omrede verbruikers reeds finansieel sukkel,” sê die AA.

Volgens die AA beloop die twee hoof belastingopgawes – brandstofbelasting en heffings vir die padongelukkefonds – ongeveer 40% van die prys van brandstof per liter. Dit wil sê R5.59 per liter petrol gaan vir belasting. Buurlande wat direk van Suid-Afrika brandstof koop, betaal nie die belasting nie. Daarom is dieselfde brandstof goedkoper in buurlande.

Enige verhogings wat die minister op Woensdag aangekondig, gaan in April in werking tree.

Daarbenewens sê die AA dat die voorgestelde verhoging van die belasting op toegevoegde waarde (BTW) saam met die verhoging van die brandstofheffings vir verbruikers en die motorbedryf in die geheel ’n dubbele terugslag sal wees.

Die vereniging sê dat die boodskap aan Mboweni eenvoudig is: “Moenie dit doen nie, Minister.”