Smullekker biltongpotjie – resep

Deel hierdie storie / Share this story

Wat is meer eg Suid-Afrikaans as biltong? Wat is makliker en lekkerder as ’n smullekker biltongpotjie vir ’n Sondagete saam met familie en vriende?

Probeer gerus hierdie heerlike resep.

Bestanddele:

• 30 ml olyfolie

• 1 ui, opgekap

• 200 g spek

• 1 x geel soetrissie, saadjies uitgehaal en opgekap

• 1 x rooipeper, saadjies uitgehaal en opgekap

• 1 knoffelhuisie, fyngemaak

• 200 g sampioene

• 410 g geblikte mielies

• 125 ml beesvleisaftreksel

• sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

• 3 k gekookte pasta (skulpies of fusilli)

• 250 g biltong, in skywe gesny

• 200 g gouda kaas

• 45 ml pietersielie, gekap

om voor te sit: 45 ml poeierbiltong (opsioneel)

Metode:

1. Verhit ’n potjiepot oor matige kole.

2. Voeg die olie by en braai die uie, spek, soetrissies en knoffel tot die spek gaar is en die soetrissies sag is.

3. Voeg die sampioene by en braai tot dit sag is.

4. Voeg die geblikte mielies by.

5. Voeg die beesvleisaftreksel by en bring tot kookpunt.

6. Voeg die pasta en die biltong in lae by.

7. Sprinkel die kaas en die pietersielie bo-op die laaste laag.

8. Bedek die potjiekos met die deksel en laat dit liggies prut oor die kole op ’n lae hitte vir 20 minute of tot die kaas gesmelt is en die pasta verhit is.

9. Sprinkel die poeierbiltong oor, indien dit gebruik word, en bedien dadelik.

Wenke:

Gebruik nat biltong wat maklik in die pot kan sag word.

Hierdie biltongpotjie kan ook op ’n stoofplaat voorberei word en in die oond afgewerk word.