Tazne van Wyk se familie praat uit

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP – Die gesin van die agtjarige Tazne van Wyk praat vir die eerste keer met die media ná haar liggaam ontdek is. Tazne se liggaam is in ’n stormwaterpyp op die N1 naby Worcester gevind.

Tazne is twee weke gelede laas gesien toe sy na ’n snoepwinkel in Ravensmead gestap het. Haar 54-jarige vermeende ontvoerder was na bewering ten tyde van haar dood op parool vrygelaat. Die verdagte is in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.

Samantha Viljoen, Tazne se tante, vertel aan SABC Nuus sy wonder hoeveel kinders nou nog so om die lewe gebring gaan word. “Dis wat ons as ouers nie verstaan nie. Die kinders mag nie meer buite speel nie. Moet die kinders nou so grootword?”  

Intussen het die geslagsaktivis, Lucinda Evans, die president en die parlementslede gelooi na die lyk van Tazne gevind is. Evans sê dit is skandelik hoe politici tydens die debat oor die staatsrede die toespraak oor geslagsgeweld vir politieke gewin misbruik het terwyl kinders deur mans op parool vermoor word.

“Dit is die tweede parooloortreder in 2020 en die tweede vermiste kind wat in 2020 dood gevind is. Hoeveel meer? Hoeveel meer kinders gaan dit nog die vroue en families in hierdie land kos?” vra Evans.

Die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, Albert Fritz, het sy skok en hartseer uitgespreek na Tazne se lyk ontdek is.