Vermiste meisie (8) se liggaam gevind

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP –  Die inhegtenisneming van ’n verdagte ontvoerder het die polisie na die grusame ontdekking van ’n vermiste agtjarige meisie se liggaam gelei.

Die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt.-genl. Yolisa Matakata, het die ywer van die betrokke speurspan sowel as die soekpartye vir hul ondersteuning bedank. Sy het erken die inhegtenisneming van die verdagte sal nie die agtjarige meisie terugbring nie, maar sal ’n streng waarskuwing aan oortreders uitstuur.

’n Uitgebreide ondersoek na die verdwyning van die agtjarige meisie uit haar huis in Ravensmead, byna twee weke gelede, het die polisie saam met misdaadintelligensie na die vermeende ontvoerder op Cradock gelei. Die vermeende ontvoerder is op 18 Februarie 2020 opgespoor na hy op die Oos-Kaapse dorpie gaan wegkruip het. Die verdagte het op Dinsdag 18 Februarie 2020 op Cradock vlugtig in die hof op aanklag van ontvoering verskyn. Die verdagte is later na Kaapstad vervoer.

Verdere ondersoek deur die speurders het Woensdagaand na die grusame ontdekking van die liggaam van die kind in ’n stormwaterpyp buite Worcester gelei. Die verdagte het dit so aan die polisie uitgewys.

Die verdagte word aangekla van moord en sal na verwagting op Vrydag 21 Februarie 2020 in die Goodwood-landdroshof verskyn.

Namate die polisie se ondersoek ontvou, kan die vermeende ontvoerder heel moontlik bykomende aanklagte van moord in die gesig staar.

Die ouers van die agtjarige meisie is van die ontdekking in kennis gestel. Hulle ontvang tans berading.