SA-damvlakke styg na reën

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA – Die konstante reënval die afgelope week in groot dele van die land het die gemiddelde damvlakke met byna twee persent verhoog. Gauteng se damvlakke het egter van 103% tot 98.9% gedaal.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die nasionale departement van water en sanitasie, sê volgens die jongste damvlakverslag van die departement van water en sanitasie het Suid-Afrika se damvlakke van 62.4% verlede week tot 64% gestyg. Daar is gemiddeld 20 486.3 kubieke meter water wat in opgaardamme gestoor word.

Die Noord-Kaap bly stabiel op 80.8% in vergelyking met 80.9% in die vorige week, terwyl Noordwes van 67.3% tot 66.8% gedaal het, sê Ratau.

Vrystaat, wat met die grootste damme in die land spog, het ’n vlak van 71.1% aangedui. Dit is fraksioneel meer as dieselfde tydperk verlede jaar.