HERMANUS – ’n Verdagte wat by ’n beweerde OTM-bedrogsindikaat betrokke is, is hier op 16 Februarie deur die buurtwag en ander owerhede vasgetrek.
Dit volg te danke aan samewerking deur AfriForum se Alfa-buurtwag, Hermanus Public Protection (HPP), ander wetstoepassingsbeamptes en privaat sekuriteit.
Twee van die buurtwaglede het omstreeks 16:00 een van die sindikaat se bekende voertuie gewaar en dit aangemeld.
Die verdagte het probeer vlug nadat hy gewaar is, maar hy is met ’n kamerastelsel opgespoor, waarna nóg buurtwaglede, die SAPD en die owerhede geaktiveer is. Ná goeie samewerking en parate optrede tussen al die rolspelers is die verdagte op Onrus gearresteer.
“Ons is dankbaar vir die oplettendheid van die buurtwaglede, asook alle rolspelers se samewerking. Ons probeer altyd om die SAPD by te staan en ten volle te ondersteun om ons gemeenskap veilig te hou,” sê Lourens Theron, voorsitter van AfriForum se Alfa-buurtwag.



