KIMBERLEY – Inwoners van Beaconsfield en Herlear is woedend oor ’n vloot myntrokke wat op ’n daaglikse basis deur dié buurte ry.
Veiligheid kan nie verseker word nie
Volgens ’n persverklaring deur Kimberley Ekapa Mining (KEM-JV) is hulle deur die polisie aangeraai om nie verder van hulle oorspronklike roete na die Super Stone-behandelingsaanleg gebruik te maak nie, omdat hulle nie meer die veiligheid van KEM-JV-personeel en voertuie kan waarborg nie. Dit volg nadat ’n derde myntrok deur zama-zama’s uitgebrand is. Lees ons vorige berig, Verdagtes gesoek na derde myntrok uitgebrand word.
Peter Hohne, bestuurder van die oppervlakmynbou by dié myn, sê die oorspronklike roete na behandelingsaanleg was vanaf die R64 tot in Hullstraat.
“KEM-JV het geen ander keuse gehad as om van die ingang by Ernestville gebruik te maak nie. Dit om die veiligheid van personeel en voortgaan van mynbedrywighede, wat ‘n belangrike deel van die stad se ekonomie uitmaak, te verseker.”
Volgens die persverklaring is die nuwe roete in ’n hofsaak aangespreek en is daar ten gunste van die myn beslis. Steeds doen die myn moeite om die impak te beperk.
Volhoubaarheidsprogram vir nuwe roete
’n Volhoubaarheidsprogram is vir die nuwe roete geïmplementeer om die pad te vee om los materiaal te verwyder in ’n poging om stof te verminder.
Die myn se stofbeheerplan is deur die provinsiale departement van omgewingsake en natuurbewaring goedgekeur.
Ander maatreëls wat in plek gestel is, sluit in:
- Beperking van vragte saans;
- Natmaak van paaie;
- Afspuit van stabiliseerders om stof te beheer;
- Vee van paaie;
- Skraap van klei wat deur oortollige water veroorsaak word;
KEM-JV het ’n voortdurende padinstandhoudingsprogram vir die herstel van slaggate op hierdie roetes. Water word op die vragmotors se materiaal gespuit as hulle die myngebied verlaat om die stof te beperk.
Hohne sê al die myntrokke word met satellietopsporing gemonitor. “Die spoedgrense vir ons vragmotors is verlaag, terwyl die snelheid en die posisie van vragmotors gemonitor en bestuur word. KEM-JV sal in kennis gestel word as enige van die vragmotors die snelheidsperk oorskry.”
Die Ekapa-groep is volgens die persverklaring ook betrokke by en bestuur van verskeie pogings, saam met verskillende belanghebbendes, om die werklike uitdaging, naamlik die onwettige mynbedrywighede, sowel as onwettige besetting van gebiede soos by Samaria aan die buitewyke van die stad, op te klaar.
“Die uitdagings beïnvloed die veiligheid van ons mense en veroorsaak ’n afwyking van normale bedrywighede. KEM-JV doen ’n ernstige beroep op alle belanghebbendes om op die bron van die uitdaging te fokus, ” sluit Hohne af.
Inwoners onsteld oor myntrokke
Diana Krieger, ’n inwoner van Sentraalweg, sê die myntrokke ry verby haar huis en sy is vreeslik ontsteld daaroor.
“Ek het verskeie kere geskrik wanneer ek my motor uittrek. Ek is bang, want die trokke is massief en ry teen ’n hoë spoed,” verduidelik sy.
Krieger sê die pad is besig met die besighede en Laerskool Du Toitspan in die straat. Kinders speel ook op die sypaadjies en is kwesbaar vir die verkeer.
“Die geraas is ook verskriklik. Dit klink soos ’n groot mynontploffing. Help asseblief. Ons pad is besig om verwoes te word,” sê sy.
Raadslid poog om rolspelers bymekaar te bring
Ockert Fourie, DA-raadslid van wyk 25, sê hy probeer sedert verlede jaar om al die belanghebendes bymekaar te kry ten einde die situasie aan te spreek en na alternatiewe te soek. Hy sal die saak verder neem.



